<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Nuwe inspirasie vir die Bosveld

 
News : 15 Oct 2015 527 Viewed By Helena Raats 0

MOKOPANE – Sy was ‘n klein dogtertjie wat ontneem is van haar kindwees. ‘n Tiener wat hard moes baklei teen gedagtes van selfmoord. ‘n Teologie student wat getrou het en toe deel word van ‘n kitsgesin, ’n volwasse vrou wat haar man help oplig na hulle alles verloor het, en nou sing sy van die Here se wonderlike genade.
Dit is hoe Janiné Grobbelaar, ‘n gospel-sangeres en motiveringspreker, haarself beskryf. Haar liedjies is al op verskeie radio stasies gespeel, sy was al op Kruiskyk TV en DKNT-Gospel en het twee CD vrystellings (getiteld Melk in jou tee en Ek en jy).
Janiné het in Julie saam met haar man, Schalk en hul twee kinders, Jancké (12) en Heinecké (10) na Mokopane verhuis van Zeerust af. Schalk is ’n plaasbestuurder en die kinders is in Laerskool Krugerpark. Janine het ’n sangskool bedryf en hoop om sommer gou hier ook een op die been te kry.
“Ons sien uit om ons hier in die Bosveld te kom vestig,” sê Janiné. “Ek weet dat die Here ons hier wil hê en ek hoop om ook hier die geleentheid te kry om ander the inspireer met my getuienis en musiek.”
Janiné skryf haar eie lirieke en musiek en vertel dat sy haar eerste album opgeneem het toe sy 28 was. Sy is besonder trots op haar tweede album, Melk in jou tee, wat getuig van dankbaarheid. “Dit was my wonderwerk-album, want die Here het deure oopgemaak al was ons moedeloos en ons net weer gewys dat Hy altyd in beheer is.”
Sy noem pertinent die liedjie “God is in Control” op die album wat haar na aan die hart lê. “Ons het in 2011 alles verloor en ek het die liedjie vir Schalk geskryf,” vertel sy. “Ons het vinnig agtergekom dat ’n mens jouself ook maklik kan verloor wanneer jy jou eie wil najaag – dit gaan oor wat die Here wil hê.
“Ek het begin praat en getuienis oor my lewe begin lewer,” sê sy. “Die pad was moeilik en ek het baie selfbeeld probleme gehad en was onseker in myself, maar vandag weet ek dat ek geroep is om my storie met ander te deel dat hulle met my kan identifiseer.”
“Ek het langs die pad seergekry, maar nog altyd gevoel dat God my geroep het om vir Hom te werk,” sê sy. “My lewensondervinding het my geleer dat ons nie Satan ’n houvas op ons lewens moet gee nie en moet werk om die mense om ons positief te
beïnvloed.”
Janiné vertel dat sy identifiseer met Ester se verhaal in die Bybel en graag vir ander vroue wil wys hoe sterk hulle eintlik is. Sy sê dat Ester haarself in ’n vreesaanjaende situasie bevind het, maar besluit het om haar lewe op die spel te sit om haar volk te red.
“Vra jouself, wat is my gesindheid in die lewe?”
“Al lyk dit nou donker, weet dat die Here die groter prentjie sien,” sê sy. “Die vrou se rol in die samelewing – en in haar huwelik - is so bitter belangrik.”
Gaan luister gerus na haar liedjies by https://www.reverbnation.com/melk (die CDs is ook te koop). Janiné is beskikbaar vir optredes.
Sy is beskikbaar as sangeres en motiveringspreker, maar ook om te bedien by kerke en spesiale geleenthede.
Skakel haar gerus by 076 750 9232 of epos janine@janineproductions.co.za.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube