<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Loopbaan in skoonheid is nie net glansryk nie

 
News : 15 Oct 2015 911 Viewed By Amanda Basson 0

Verskeie meisies en vroue in die Bosveld-omgewing pak die kompeterende wêreld van skoonheidskompetisies maandeliks aan en werk ook as modelle in die hoop om daardie groot kontrak los te slaan.
Elita Janse van Vuuren van Mokopane se agt-jarige dogtertjie, Wilita, neem al vandat sy baie klein is aan skoonheidskompetisies deel.  “My kind geniet dit ongelooflik baie en streef daarna om eendag aan die Mej. Suid Afrika kompetisie deel te neem,” sê Elita. “Ek het vir Wilita geleer dat sy met haar voete op die aarde moet bly, terwyl sy met haar kop in die wolke rondloop.”
Wilita het ’n rits skoonheidstitels gewen, die mees onlangse was die ‘Miss Observer Cover Girl 2015’ (waar sy 70 ander meisies uitgestof het) en die ‘Face of Tzaneng Mall Junior 2015’ in September.
Skoonheidstitels verskaf ’n platform om ‘n werklike, blywende verskil te maak, sê Mev Grand SA 2015, Rina van Schalkwyk, en dit is ‘n groot motivering. “Die ondervin-ding wat mens opdoen, nuwe dinge wat mens leer en mense wat jy ontmoet is van onskatbare waarde - dit bou ongelooflik selfvertroue en leer mens om net so goed te verloor as wat jy sou wen.”
“Skoonheidskompetisies leer mens baie van jouself,” verduidelik sy. “Ek wil die Mev Grand SA wees wat onthou word vir wat ek na die titel toe gebring het en nie noodwendig wat die titel vir my gedoen het nie.”
As Mrs Grand SA 2015 sal Rina haar toespits op ‘n welsynsorganisasie wat fokus op die voorkoming van kinder verdrinkings en wat ook ondersteuning gee aan kinders wat gestremdhede opgedoen het nadat hulle amper verdrink het.
Daar is heelwat onkostes voordat die dames aan ‘n kompetisie kan deelneem. “Wilita se uitrusting wat sy aan die einde van die maand met haar volgende kompetisie - die Posh Missy SA finale - gaan dra kos ons amper R2 000.”
Tog voel Elita nie dat dit geld is wat gemors word nie. “My kind werk ongelooflik hard voordat sy aan ‘n kompetisie gaan deelneem en ek voel dat dit goed is vir haar selfvertroue.”
Die groter kompetisies vereis inskrywing gelde, borgskap verantwoordelikhede en fondsinsamelingsaktiwiteite en dan moet daar ook verskeie uitrustings aangeskaf word vir die verskillende afdelings waaruit die kompetisie bestaan. “Die onkostes is hoog as mens nie persoonlike borge het nie," sê Elita.  
Jeanette van Deventer van Lephalale stem saam. “Ek is al twaalf jaar lank ‘n model en kan met eerlikheid sê dat modelwerk wondere vir jou selfbeeld doen.”
Alhoewel modelwerk baie geld kan inbring, waarsku Jeanette dat modelle ook opofferings moet maak. “Daar is dikwels baie reiswerk betrokke en mens is baie op die pad.”
Jeanette het al in 27 lande gewerk en sê dat sy op een stadium slegs een maand van die jaar by die huis was. “Daar is nie veel geleenthede vir modelle in Limpopo nie omdat meeste van die agentskappe in Johannesburg en die Kaap is wat beteken dat iemand wat ‘n model wil word moet bereid wees om te verhuis.”
“Voornemende modelle moet ook besef dat sekere produkte ‘n sekere voorkoms vereis en dat dit grootliks sal bepaal of die model in diens geneem sal word of nie,” verduidelik sy. "Modelle mag byvoorbeeld nie tatoeëermerke hê nie.”
Carre-Lee Armstrong van Lephalale is 'n Graad 11 in Ellisras Hoërskool en het al verskeie kompetisies gewen en mode fotosessies meegemaak. Een van die hoogtepunte is toe sy gekies is om as ‘n byspeler op die die stel van die internasionale film Resident Evil op te tree. “Ek moes die moeilike besluit maak om ‘n maand van skoolwerk te verloor sodat ek kon deelneem aan die film, maar het gevoel dat dit beslis die moeite werd is.”
Volgens Carre Lee is dit redelik maklik om vir skoonheidskompetisies in te skryf maar rolprentwerk is uiters skaars. “Ek het nog altyd geglo dat ek ‘n aktrise gaan word en ek voel dat deur harde werk en toewyding ek my doel sal bereik.”
Beide Elita en Jeanette is dit eens dat ‘n goeie agentskap van uiterste belang is vir die sukses van skoonheidskoninginne en modelle. “Wilita se kompetisies word gekeur deur my en haar agentskap voordat sy daaraan deelneem en haar uitrustings moet ook aan sekere standaarde voldoen,” sê Elita.
“Skoonheidskompetisies gaan oor soveel meer as net skoonheid elkeen van ons het verskillende talente," sê Rina. "Deur te fokus op jou sterkpunte en waarmee jy geseën is, sal jy jou potensiaal ontdek en sal jy ophou om jouself met ander te vergelyk.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube