-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Die 12-jarige leukemia lyer (bloedkanker), Hekkie Grobler het te danke aan sy dapper boetie, Kobus (10), uiteindelik sy groot beenmurgoorplanting agter die rug.
Die siek seun, vir wie daar fondse ingesamel word om sy mediese onkostes te help dek, se toestand word gemonitor om te bepaal of sy beenmurg oorplanting vroeër die week suksesvol was.
Noordelike Nuus het op 25 September berig oor Hekkie wat vandeesmaand 'n beenmurgoorplanting moes kry wat ongeveer R500 000 kos (“Maak harte oop vir Hekkie”, bladsy 3).
Die mediese proses om beenmurg van Hekkie se skenker, sy boetie Kobus, te trek het Maandagoggend begin en is dieselfde middag deur middel van ’n drip aan Hekkie oorgeplant. Boodskappe vir Hekkie se spoedige herstel stroom in op Facebook en die Whatsapp-groep “Beenmurg vir Hekkie”.
Kobus word beskou as ’n dapper jong seun wat sy boetie in groot nood uithelp. Hekkie se ma, Es-Marie, het Dinsdagaand geskryf dat Hekkie baie beter voel en dat hulle duim vashou Kobus se beenmurg groei in Hekkie.
Sy het Woensdagoggend gesê die dokters is tevrede en dat Kobus nog pyn in sy rug het maar dat sy verwag hy sal Donderdag weer terug wees by die skool.
Es-Marie het al die barmhartige Samaritane bedank vir hulle onbaatsugtige bydrae tot haar seun se kanker fonds. “Baie dankie vir almal se omgee en liefde, dit beteken vir ons ongelooflik baie,” sê Es-marie.
Alhoewel die gesin aan 'n mediese fonds behoort, word alle uitgawes nie gedek nie.
La Bamba in Mokopane hou op 24 Oktober ’n familiedag ten bate van Hekkie.
Die dag behels ’n motorfietssaamtrek en ontbyt vir die betrokke motorfietsryers. Die gemeenskap word uitgenooi om dié pretdag by te woon.
Vermaak sluit onder meer musiek, ’n springkasteel en hanswors in en saam met die lekker kuier sal worsbroodjies te koop aangebied word.
Vir meer inligting kan Malie gekontak word by 078 329 7134.
0 Comments