-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Sibreena Da Costa, wat haar twee kinders verloor het nadat ‘n brand in die nag by hul huis uitgebreek het, se hartseer het ‘n nuwe wending geneem toe daar verlede week ‘n dispuut ontstaan het oor die toekenning van die fondse wat vir Katelint en Jayden se mediese onkostes ingesamel is.
Katelint (8) en Jayden (1) is verlede maand erg beseer nadat ‘n brand by die Da Costa woning in Ellisstraat ontstaan het. Albei kinders het ernstige brandwonde opgedoen en is saam met hulle oupa, José da Costa, en hulle ma se verloofde, Johan Nel, in die Mankweng hospitaal buite Polokwane opgeneem. José het volgens berigte brandwonde aan sy bene en voete opgedoen toe hy by die brandende kamer ingehardloop het om die kinders te probeer red en Nel het beserings aan sy hande opgedoen hy die kamervenster gebreek het om hulle uit die brandende vertrek te kry. Omdat die familie nie aan ‘n mediese fonds behoort nie is daar onmiddellik begin met ‘n fondsinsameling wat deur Bertha Olivier van Engele vir Nood, ‘n nie-winsgewende organisasie in Lephalale, behartig is.
Katelint is egter kort na haar opname in die Mankweng hospitaal in Polokwane oorlede en daar is ‘n heldhaftige poging aangewend om Jayden oor te plaas na Meulmed in Pretoria per vliegtuig. Slegs ‘n paar dae na sy opname is die klein seuntjie egter in sy ma se arms oorlede.
Intussen het daar nou ‘n toutrekkery oor die fondse ontstaan met bewerings dat Engele vir Nood weier om die mediese kostes van José da Costa se buitesorg behandeling te betaal en dat die organisasie nie die geld wat deur die fondsinsameling bekom is aan die familie wil uitbetaal nie.
In ‘n skrywe wat deur Mariaan Wiid,
Sibreena da Costa se woordvoerder, op
'Kaitlint en Jayden Da Costa' se Facebook-blad gepubliseer is (wat intussen verander is na ‘Kaitlint & Jayden & Oupa Jose’ Da Costa’) word daar beweer dat Bertha Olivier van Engele vir Nood haar dienste vrywilliglik aan die Da Costa familie aangebied het. “Daar is geen ooreenkoms aangegaan dat Me Olivier of Engele vir Nood ‘n salaris sal ontvang vir die geldinsameling nie,” sê Wiid in haar skrywe en beweer dat Olivier R4 464 as ‘n salaris ontvang het. Wiid spreek haar kommer uit oor Charmain Enslin, Olivier se dogter, wat ‘n direkteur by Engele vir Nood is en ook werk vir die boekhouding maatskappy, Joubert Tax & Accountants Professionals, wat na
bewering geld ontvang het vir dienste gelewer. Enslin het ook van die uitgawes afgeteken.
Op die 12de Oktober is daar volgens Wiid se skrywe ‘n vergadering met die betrokke partye belê waartydens Olivier en die boekhouer onderneem het om vir alle mediese onkoste te betaal en vir die grafstene van die kinders te betaal. ‘n Bedrag van R10 000 moes na bewering dadelik aan Da Costa uitbetaal word in haar persoonlike rekening.
Twee paaiemente van R10 000 elk sou ook teen die 12de November en die 12de Desember aan haar betaal word waarna die res van die geld aan haar uitbetaal sou word. Teen einde Desember sou ‘n oudit van alle gelde gehou word.
Volgens die state is daar sowat R115 000 beskikbaar, wat Olivier aan Noordelike Nuus bevestig het.
Da Costa beweer egter dat sy geen geld ontvang het soos ooreengekom nie en dat sy sal voortgaan met siviele stappe terwyl ‘n oudit gedoen moet word en die geld na haar prokureur se trustfonds oorbetaal word.
Da Costa het bevestig dat sy saamstem met die skrywe soos deur Wiid opgestel en dat dit ‘n akkurate weergawe is van gebeure, maar Olivier sê die aantygings is onsin. “Ek is nou al meer as twee weke bedlêend en het in geen stadium met die familie en hulle prokureurs ‘n vergadering gehad nie.”
“Die mediese onkostes van die familie word steeds elke dag betaal vanuit die fonds. Ek het slegs in een stadium vir die publiek gevra dat hulle insette lewer oor hoe die geld bestuur moet word omdat die donasies van hulle af gekom het,” sê Olivier. Volgens die finansiële state, wat ook op Joubert Tax & Accountants Professionals se Facebook-blad geplaas is, is duisende rande uitbetaal aan onder meer Meulmed Hospitaal en Paramedical Consulting Services (vir Jayden se oorplasing per vliegtuig).
Volgens Olivier werk haar dogter, Charmaine Enslin, wel vir Joubert Tax & Accountants Professionals. “Danie Joubert het om weg te steek nie,” beaam sy. “Inteendeel, hy het al die dokumentasie en bewyse van betalings op sy maatskappy se Facebook-blad geplaas vir die publiek om te sien.”
Olivier beweer ook dat sy kennis dra daarvan dat Da Costa gevra het dat die geld aan haar prokureur oorbetaal moet word. “Joubert het met die Da Costas se prokureur gepraat en ons wag tot vandag [Woensdag 14 Oktober] nog om instruksie van hom af te kry oor waar die geld inbetaal moet word.”
0 Comments