<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

José vertel van vlammehel

 

José se voete is  besig om te herstel nadat hulle verbrand het in die vuur wat twee van sy kleinkinders geeis het.

News : 23 Oct 2015 510 Viewed By Amanda Basson 0

Op 4 September het ‘n brand in die huis in Ellis straat ontstaan wat die lewens van albei José se kleinkinders geëis het. “Ek het in die kamer ingehardloop waar my kleinkinders geslaap het en was oorval met ‘n donker rookwolk,” vertel José bewoë. Volgens hom sal hy nooit die klapgeluid vergeet wat die verterende vuur gemaak het nie.
José se voete is verbrand, terwyl Sibreena da Costa (José se dogter en die kinders se ma) se vriend, Johan Nel wonde aan sy hande opgedoen toe hy die venster moes breek om die kinders uit die kamer te probeer kry. Katelint en Jayden het ernstige brandwonde oor hulle liggaampies opgedoen en die hele gesin is oorgeplaas vanaf Lephalale na Mankweng-hospitaal net buite Polokwane.
“Op daardie stadium het ek nie eers aan my eie pyn gedink nie en wou net so gou as moontlik die kinders uit die huis uit kry.” José sê dat klein Katelint nog met hulle gesels het toe hy by die hospitaal aankom en dat die dapper dogtertjie vir hulle gesê dat hulle nie bekommerd moet wees nie want alles gaan regkom.
 “Dit was ‘n skok om by Mankweng hospitaal aan te kom; dit was vuil en die verpleegpersoneel was ongeskik,” sê José, maar tog het hy baie hoop gehad dat Katelint gesond sou word. “Sy het nog vir haar ma gevra of sy dan nie moet skool toe gaan nie.”
“Sibreena het toe vir haar gesê dat dit ‘n spesiale vakansie is en dat sy eers terug skool toe sal gaan as sy gesond is.”
Katelint is kort na haar opname in ‘n geïnduseerde koma geplaas en is ‘n paar dae later oorlede. “Dit was ‘n groot skok, want sy het net voor hulle haar in die koma geplaas het nog vir ons gesê sy soek ‘n rolstoel sodat sy bietjie buite toe kan gaan.”
Anneri du Plooy van die Hero Burn Foundation het met die gesin kontak gemaak en daar is besluit om Jayden oor te plaas na Meulmed Hospitaal in Pretoria. “Jayden het sy beentjie beweeg as mens aan sy voete gevat het en ek kon sien dat hy wel reageer op aanraking.”
Die Hero Burn Foundation het gehelp om Jayden per vliegtuig na Meulmed te vervoer waar dit nodig was om Jayden na die teater geneem om dit skoon te maak. ‘n Breinskandering is later gedoen en daar is gevind dat die seuntjie geen brein funksie toon nie. Op 20 September is hy in sy mamma se arms oorlede.
“Anneri was amper die hele tyd by ons gewees en sy het ons verskriklike pyn met ons gedeel en daarvoor wil ek vir haar baie dankie sê,” sê José.
José se kollegas by SVK Engineering, waar hy werk, het van die begin af ingespring en gehelp met fondsinsamelings vir die gesin. “Ek kan nie genoeg dankie sê vir die klomp mense wat saam gestaan het om die tyd vir ons makliker te maak nie.”
José bedank elke persoon wat ‘n donasie gemaak het en die gesin in hulle gebede gedra het. “Ek glo nie ek sal ooit heeltemal oor hierdie tragedie kom nie en sukkel nou nog om te slaap, maar dit is vir ons as gesin fantasties om te weet dat soveel mense bereid was om ons te help.”
José kan weens sy wonde nog nie terug gaan werk toe nie, maar hy sê dat hy elke maand ‘n donasie aan Hero Burn Foundation wil maak sodra hy weer finansieel in staat is. “Ek wil nie hê dat enigiemand anders moet ervaar waardeur ons gegaan het en wil hê dat daar fondse beskikbaar is sodat toekomstige slagoffers van so ‘n tragedie net die beste mediese sorg kan kry.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube