<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Baasspeurder vir Waterberge

 

Die helikopter wat deur Tony van Niekerk geskenk is vir misdaadbekamping en wat op 'n permanente basis beskikbaar is.

News : 29 Oct 2015 2664 Viewed By Amanda Basson 0

LIMPOPO – Oud Lt.-Kolonel Sakkie Louwrens word beskou as een van Limpopo se baasspeurders en is bekend vir sy goeie werk om menige plaasaanvallers en moordenaars agter tralies te kry. Na 26 jaar in die polisie het hy besluit om die tuig neer te lê en 'n privaat organisasie te stig om ernstige geweldsmisdade in die Waterberg-gebied hok te slaan.
Louwrens is bekend vir verskeie hoë profiel sake in die Bosveld-omgewing, onder meer die arrestasie van Ian Chuqe wat skuldig bevind is aan die verkragting en roof van Mariaan Wentzel op die Vaalwaterpad in Maart. Louwrens en sy span hou ook die rekord vir die vinnigste opspoor en inhegtenisneming van die Thohoyandou-reeksmoordenaar (bron: steelburgernews.co.za).
Hy was vroeër in Oktober op die toneel by die One Stop Restaurant buite Mokopane waar 'n vroue werknemer na bewering deur twee mans oorval, verkrag en beroof is.
Louwrens se nuwe organisasie sal Heritage Protection Group (HPG) heet en beplan om die gemeenskap gratis te help en by te staan met ernstige misdade soos plaasaanvalle, gewapende roof, moord en renosterstropery. Louwrens, wat voortaan in Thabazimbi sal woon, beplan om nou saam met Die Spoorsnyers ('n groep vrywilligers wat die polisie bystaan in die onderstoek van plaasaanvalle) te werk.
In 2015 was daar 116 plaasaanvalle waarvan 27 op moord uitgeloop het.
Volgens die DA se kommunikasie beampte vir veiligheid en sekuriteit, Katlego Suzan Phala, het 25 van die 27 gerapporteerde moorde tot en met Junie op plase in Limpopo plaasgevind. Dit sluit boere en hul gesinne, werkers en hul familie asook besoekers op plase in.  
Louwrens en sy nuwe vyf-man span gaan poog om ‘n wesenlike verskil aan ernstige misdade in die omgewing te maak. “Vir ons gaan dit uitsluitlik daaroor om misdadigers vas te trek en ‘n verskil te maak in die hoë aantal geweldsmisdade wat ons tans beleef.”
Die span het onlangs twee bakkies en ‘n helikopter ontvang van Tony van Niekerk, ‘n besigheidsman van Thabazimbi. “Ons wil poog om nie vir die boere ‘n fooi te vra om van ons gebruik te maak nie, omdat ons besef dat almal deesdae swaar trek en gaan vir eers op donasies van besighede staatmaak.”
Louwrens se polisie agtergrond word goed aangevul deur sy kollega Ben Engelbrecht wat ‘n kundige in spoorsny is. “Ben was deel van die kommando se reaksie eenheid en is besig om ‘n klomp mense op te lei in spoorsny en toneel beveiliging.”
Alhoewel die span vir eers net op die Waterbergomgewing gaan konsentreer wil hulle uiteindelik die hele Limpopo bedien. “Ons wil nie die polisie of enige ander instansie in ‘n omgewing vervang nie, maar wil hulle eerder bystaan met ons kennis en toerusting.”
Die helikopter is op ‘n permanente basis beskikbaar vir ernstige voorvalle. “Die publiek is welkom om telefonies met ons kontak te maak.”
Sakkie Louwrens se selfoon nommer is 071 798 7954 en Ben Engelbrecht kan gekontak word op 083 380 1582. HPG sal later ’n noodnommer op die been bring wat 24-uur beskikbaar sal wees.

 

 

 
 

Oud-Lt.kol. Gawie (Sakkie) Louwrens en sy verloofde, Mariska Grobler.

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube