<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Dienssentrum reg vir noodgeval

 
News : 12 Nov 2015 59 Viewed By Amanda Basson 0

LEPHALALE – Die Lephalale gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se dienssentrum is goed toegerus om inwoners in enige noodsituasie by te staan.
 “Mense is gewoonlik in ‘n gemaksone tot hulle self deur misdaad geraak word,” so sê Cobus Coetzer, ‘n lid van die GPF. Cobus en sy vrou, Sunette, is al ‘n geruime tyd aktief betrokke by die GPF. Daar is sowat ‘n jaar gelede by hulle op die plaas ingebreek. Hy poog sedertdien om te keer dat dieselfde met ander mense gebeur. “Elke mens in ons dorp moet veilig voel en ons sal dit net regkry as ons ons dorp kan terugvat van kriminele en wettelose mense af.”
Cobus voel sterk daaroor dat die dienssentrum ‘n integrale doel in die gemeenskap dien. “In enige noodgeval kan inwoners die sentrum skakel en hulle sal verseker wees dat hulp verleen sal word.”
GPF voorsitter Thys Eloff stem saam.
“As iemand inbel en sê dat hulle hulp nodig het met ‘n lapa wat aan die brand gesteek is of selfs iets so netelig soos ‘n ou mens wat in ‘n paal vasgery het en geskok is, sal ons seker maak dat hulp ontbied word en die persoon bygestaan word.”
Die dienskamer is gekoppel aan verskeie ander instansies soos die spoorsnyers, sekuriteitsmaatskappye, veediefstaleenhede, klinieke, hospitale, dokters, ambulanse en insleepdienste. “Ons het ‘n kontakpersoon vir elke denkbare noodgeval en moedig daarom elke inwoner aan om die dienskamer se nommer altyd byderhand te hê.”
Elke persoon wat by die dienskamer geregistreer is word op ‘n databasis geplaas. “Ons weet dan presies waar die persoon bly, wat hul allergieë is en selfs wat hul bloedgroep is.”
Die dienskamer word op ‘n vrywillige basis bestuur, maar as daar inwoners is wat ‘n donasie wil maak kan Sunette  gekontak word by pro@gpflephalale.co.za. Mense word ook aangemoedig om die GPF se facebook bladsy te volg vir inligting rondom misdaadvoorkomingsaksies en misdaad tendense in Lephalale. Die dienskamer kan gekontak word by 081 701 1089.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube