-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE - Jaco Cronjé (20) is wonderbaarlik ongeskonde nadat ‘n boomslang hom Dinsdag aan die vinger gebyt het.
Cronjé is nadat hy gebyt is, deur ‘n huisdokter na Mokopane Hospitaal verwys waar hy deur dokter Claire Adams ondersoek en onder observasie gehou is. Na slegs naarheid en erge hoofpyn is Cronjé ontslaan met die wete dat hy die dood vrygespring het. Dr. Adams kon geen gif in sy bloed opspoor nie.
Volgens slanghanteerder, Pieter Swanepoel van Mokopane, word Cronjé se noue ontkoming toegeskryf aan ‘n droë byt. Swanepoel verduidelik dat 'n slang met dié tipe byt nie sy gif in sy slagoffer spuit nie. “Jaco het weggeruk en is skrams deur die boomslang gebyt,” sê Swanepoel.
Swanepoel sê hy is baie beïndruk met Dr. Adams wat bereid was om telefonies, die advies van ‘n professionele en internasionale bekroonde herpetoloog, Mike Perry, in te win kort na Cronjé se opname.
Perry het haar aangeraai om die pasiënt vir 36-uur te monitor en te behandel slegs indien sy toestand versleg. Cronjé is Dinsdag ontslaan.
Swanepoel het die boomslang wat Cronjé gebyt het gevang en hou hom in veilige bewaring tot Perry dit binnekort kom haal vir mediese navorsing. "Daarna sal die slang weer in sy eie habitat vrygelaat word," sê Swanepoel.
Swanepoel het baie kennis van slange en raai mense aan om onder geen omstandighede ‘n slang te konfronteer nie.
Hy is bereid om slange in Mokopane teen geen koste te verwyder. Hy doen egter ‘n beroep op mense om nie slange dood te maak wanneer dit vir hulle ’n bedreiging inhou nie. Swanepoel het meer as 30 jaar se ondervinding met slange en kan gekontak word by 082 336 6200.
Lephalale inwoners kan teen ‘n fooi van R100 vir Marius by 072 174 6970 of Henco Janse van Rensburg by 082 822 9113 van Reptile Rescue kontak. Hulle werk ook op ’n vrywillige basis indien houers verskaf word om die slange in te vervoer.
0 Comments