-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
BOSVELD – Nie net beleef die land die ergste droogte sedert 1992 nie, maar die huidige hittegolf wat die kwik die week tot so hoog as 50˚C in Lephalale en 40˚C in Mokopane laat styg het, vererger net die droogte se impak.
Limpopo is verlede week tot ’n droogte rampgebied verklaar en dié week het etlike kleinboere in die provinsie reeds honderde sterftes onder veral hoenders aangemeld. Die Limpopo department van landbou en landelike ontwikkeling het die week ook
R3 million bewillig om boere te help met voer vir hul diere.
Klaris Dreyer, ‘n afgetrede geoloog in Lephalale, verduidelik dat die droogte aan die El Nino-effek toegeskryf kan word. Hy glo dat ons nie noodwendig ‘n verskil in ons watervlakke sal sien nie, selfs al begin dit nou baie reën.
“Aanvulling sal stadig geskied oor ‘n tydperk van omtrent drie tot ses maande omdat die droë aardkors eers gevul moet word.”
Die slegte nuus is dat die Nasionale Landboubemarkingsraad sê weervoorspellings wys dat droë weerstoestande tot Maart 2016 kan voortduur.
Volgens die departement van water en sanitasie se weeklikse stand van opgaardamme verslag is damme in Limpopo gemiddeld 70.4% vol, in vergeleke met 83.3% in November 2014. Doorndraaidam, wat aan Mokopane water verskaf, se huidige vlak is op 85% volgens ‘n woordvoerder van Lepelle Northern Water in Polokwane.
Die Mokolo dam buite Lephalale is tans 89% vol. Gerhard Viljoen van Sable Hills wat teen die Mokolo Dam geleë is sê dat hy nog nie met water gesukkel het nie. “Ons het so drie of vier goeie buie reën gehad en die dam het tot onlangs nog oorgeloop.”
Tog is dit duidelik dat spruite besig om droog te loop. Marie Hurter van Waterval Lodge buite Lephalale het die week foto’s van die Rietspruit, wat deur die plaas loop, geneem. “Oor die afgelope maand het die rivier omtrent heeltemal opgedroog,” sê sy. “Hier en daar is klein poeletjies, maar dit gaan ook binne dae verdwyn.”
Gert van Biljon wat deel is van die Mokolo dam se Besproeiingsraad stem saam dat daar beslis rede tot kommer is. “Ons het al ‘n bietjie loslating gedoen, maar die hoeveelheid water in die dam wat oor is kan ons hoogstens sewe maande hou,” sê hy. “As die dam nie binnekort begin oorloop nie gaan ons probleme hê.”
Bystand vir boere
Alhoewel veeboere die regering se besluit om in te gryp in die verskaffing van voer vir hul vee verwelkom, meen hulle dit is te laat.
Volgens die Transvaalse Landbou-unie Noordstreek (TLU) is kommersiële veeboere en wildboere bekommerd oor die droogte en het reeds begin om kuddes te verminder. Opkomende en gevestigde veeboere se weiding is uitgeput, sê die TLU-Noord se streekbestuurder, Dricus Botha. “Ons het reeds in Mei vanjaar ’n beroep op die LUR van landbou in Limpopo gedoen om dringend stappe te neem om droogtehulp in te stel.”
Daar waar daar nog plek-plek weiding is, is dit onvoldoende en van lae voedings-waarde. Die Nasionale Agro-meteorologiese komitee het reeds in September 2014 gewaarsku dat riviere, spruite en damme besig is om op te droog.
Pieter Pieterse van Waterkloof Safaris buite Lephalale sê dat hy al sedert die eerste week van Mei die droogte kon voel. “Ons boer met wild, beeste en skape en moet tussen R700 en R800 se voer per dag koop om ons diere aan die lewe te hou.”
Pieterse sê dat hulle al moes ophou jag het, omdat die kwaliteit van die wild afgeneem het. “Jagters stel nie belang in diere wat nie op standaard is nie en dit het ‘n in-vloed op ons inkomste gehad.”
Vir Pieterse was daar darem lig aan die einde van die tonnel toe dit so ‘n rukkie terug begin reën het. “Ek kan sien dat die natuurlike habitat begin herstel en dat die veld begin groen word, maar dit bly steeds kommerwekkend as ek besef dat ek omtrent sewe koedoes en twee waterbokke verloor het die afgelope jaar.”
Makenosi Maroo, woordvoerder van die nasionale departement van landbou, bosbou en vissery se advies aan boere is om plante te verminder in lyn met water beperkings in hulle areas en om die minder as gemiddelde reënval ook in ag te neem.
Swak vleispryse maak dit ook moeilik vir boere om te oorleef. Die TLU sê hy voorspel vleispryse gaan met die komende feesseisoen beslis hoër wees as verlede jaar en sal vir baie verbruikers onbekostigbaar raak. “Dit gaan weer die kriminele element op die voorgrond skuif, wat gaan beteken boere kan ’n erge toename in vee- en wilddiefstal verwag,” voeg Botha by.
Die gebrek aan goeie water vir besproeiing gaan ook ’n invloed hê op groente aanplantings, wat ’n skaarste en hoër pryse vir die verbruiker tot gevolg gaan hê.
0 Comments