-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Gewapende roof, verkragting, ‘n ontvoering en ‘n kaping was alles deel van ‘n vlaag misdaad wat Mokopane in een week getref het. Spoorsnyers, buurt- en plaaswag lede asook die polisie was die afgelope week druk besig om misdadigers wat die area teister, vas te trek.
Gewapende roof en huisbraak
Dinsdagoggend om 02:15 is ’n egpaar in hul huis in Akasia deur vier onbekende mans, waarvan drie gewapen was, oorval en beroof. Die rowers het volgens die polisie toegang na die huis verkry deur ’n stuk-
kende ruit. Surti Harun (40) en sy vrou is deur die rowers met vuurwapens oorval waarna hul koppe met komberse toegegooi is en daarna is hulle huis geplunder. Daar is volgens die polisie ‘n kontant bedrag, drie slimfone, ’n skootrekenaar en juwele ter waarde van R76 500 gesteel. Niemand is in die voorval beseer nie en die verdagtes is steeds soek.
Sondagaand was daar ook ’n gewapende huisbraak en motordiefstal in Kameeldo-ringpark. Heimrich Swart en sy gesin is om 20:00 die aand oorval deur drie onbekende mans wat as “groot gebou” beskryf word. Die mans het by die voordeur ingebars en vuurwapens op Swart, sy vrou en sy broer gerig. Die rowers het hulle daarna glo vasgebind en huisinhoud ter waarde van duisende rande gesteel. Die booswigte het onder meer selfone, juweliersware, ‘n televisie en huishoudelike items in die gesin se motor gelaai en op die vlug geslaan.
Volgens konstabel Irene Masingi van die Mokopane polisiekantoor is niemand in die voorval beseer nie. Die voertuig is later in Gauteng opgespoor. Niemand is tot dusvêr in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Moord en verkragting
‘n Saak van verkragting en moord is ook aangemeld by die Mahwelereng polisie, sê woordvoerder, konstabel Sello Leso. Dessia Dinama Ramasobane (35) van Bakenberg is Saterdagoggend na bewering by haar huis deur drie mans ingewag, aangerand, vermoedelik verkrag en met ’n koevoet vermoor.
Die moordenaars het met die oorledene se voertuig na Klipfontein in Tembisa gevlug. Die voertuig en verdagtes is deur ’n opspo-ringsmaatskappy, in samewerking met die verkeersdepartement, opgespoor. Een van die drie verdagtes het ontsnap. Die ander twee is in hegtenis geneem en sal na verwagting vir ’n tweede keer in die Mokerong Landdroshof verskyn vir hul borgaansoek.
By Tinmyne is twee minderjarige meisies (onderskeidelik 16 en 17 jaar oud) Dinsdagoggend deur twee mans in hulle huis aangerand en verkrag. Die verkragters het 04:00 die oggend by die meisies se huis ingebreek en het vier ure later eers gevlug.
Ontvoering
‘n Veertien maande oue babaseuntjie, George Setosha, van die Teberius dorpie buite Mokopane is Saterdag deur twee onbekende mans en ‘n vrou in ’n rooi Citi Golf ontvoer. Die baba se ma, Joyce Setosha (44) beweer sy het ’n saamrygeleentheid gekry tot in Mokopane.
Die twee mans en ’n vrou saam met wie sy gery het, het haar egter nie in Mokopane afgelaai nie en op die R101 in die rigting van Mookgophong stilgehou waar hulle haar na bewering uit die motor gedwing het. Setosha sê sy is met ’n vuurwapen gedreig waarna die verdagtes met haar baba weggery het. Sy beweer dat sy eers die volgende oggend wakker geword omdat sy glo bedwelm was. Enige iemand met inligting word gevra om die Mokopane polisiekantoor te kontak by (015) 409 1420/18.
Motorkaping
Verlede Vrydag is die bestuurder van ’n bakkie ook geteiken toe drie verdagtes hom met ’n vuurwapen op die Zebediela pad buite die dorp gekaap het. Die kapers het die bestuurder vasgebind en met hom agter op die bakkie weggejaag. Die Valke buurtwag is deur ‘n sekuriteitsfirma laat weet van die voorval en het die booswigte gesien en agterna gesit. Die kapers het toe in ’n bospaadjie ingejaag om hulle af te skud, maar het in ’n boom vasgery, uitgespring en weggehardloop. Die buurtwaglede het hul spore gevolg tot by die teerpad waar hulle vermoedelik deur ’n ander voertuig opgelaai is.
So bietjie goeie nuus...
Die Valke en Arende buurtwagte, asook Die Spoorsnyers (‘n groep reserviste wat die polisie bystaan) het Maandagoggend twee sondebokke wat vermoedelik met inbrake op plotte en plase in die omgewing verbind kan word, vasgetrek. Lede van Die Valke en Aren-de buurtwag sê baie ure se ondersoek het hulle na ’n RDP huis gelei waar hulle twee verdagtes asook gesteelde goedere en bewysstukke in hulle besit gekry het. Huisbraak apparate en verskeie skoene wat se spore by onlangse inbrake op plotte en plase gevind is, was ook in die verdagte mans se besit.
Een van die verdagte inbrekers wat Maandag deur die buurtwag en polisie in ’n RDP huis in hegtenis geneem is waar gesteelde goedere, inbraak apparate en verskeie pare skoene wat se spore met onlangse inbraaktonele verbind word, gevind is.
Dié spore is deur spoorsnyers en buurtwag lede by onlangse huisbraak tonele rondom Mokopane gevind. Inlas: ’n Klaarblyklike boodskap deur inbrekers aan die SAP, spoorsnyers en buurtwagte van die dorp.
0 Comments