-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Alhoewel vakansies sinoniem is met ontspan, is tuisbly-vakansies dalk nie ’n slegte keuse nie. Finansiële beplanners en kenners raai al hoe meer mense aan, dat dié opsie wys is aangesien die finansiële implikasies van ’n vakansie weg van die huis af, mense se stresvlakke kan opjaag.
Gesinne is geneig om veral Desember vakansies te assosieer met see toe gaan of wegkom van die huis af. Die realiteit is egter dat sulke vakansies vir baie nie bekostigbaar is nie.
Noordelike Nuus het met ’n paar mense gesels wat dié vakansie en oor Kersfees tuis gaan spandeer. Die algehele gevolgtrekking by dié mense is om die meeste te maak van so 'n vakansie en dat tuisbly nie noodwendig beteken dat mens nie by die lekker dinge kan uitkom nie.
Almal is dit eens dat tuisbly-vakansies hulle baie spaar en sodoende gaan mens ’n kommervrye nuwe jaar binne.
Die geheim van ’n suksesvolle tuisbly-vakansie is om dinge eenvoudig maar ook uniek en anders te maak.
“Verandering in jou daaglikse roetine maak ’n groot verskil,” sê Herman Naudé, ’n inwoner van Mookgophong wat gekies het om vanjaar met sy gesin tuis te bly. Naudé sê dit hoef mens nie ’n arm en ’n been te kos om jouself te geniet nie. Hy sê daar is geen reël wat sê mens moet elke dag haarfyn beplan nie. “Ons is dié vakansie tuisblyers en gaan elke dag vat soos dit kom,” sê hy.
Hennie Faulds van Mokopane sê daar is vir hom en sy gesin niks lekkerder nie, as braai en kuier.
Vir Tanya Malan, ook van Mokopane, beteken ’n tuisbly-vakansie net drie woorde, familie tyd en speletjies. Ander reken daar is meer as genoeg om hulle mee besig te hou en sê daar is soveel dinge waarby hulle nie deur die jaar kon uitkom nie, wat hulle tuis wil aanpak.
0 Comments