<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Lokval beland boer in warm water

 
News : 27 Nov 2015 9888 Viewed By Amanda Basson 0

MORONG – ‘n Boer is verlede naweek gearresteer nadat die dierebeskermingsvereniging (DBV) ‘n groot hok, wat vermoedelik vir die vang van bobbejane gebou is, op sy eiendom gevind het.
Lephalale DBV inspekteur Mariaan Wentzel, sê die hok, asook die oorskot van twee volwasse bobbejane wat gevind is, is aan die departement van landbou oorhandig vir ondersoek. “Een van die bobbejane het skietwonde gehad en die oorsaak van die ander bobbejaan se dood word nog ondersoek.”
Wentzel noem dat dit teen die wet is om diere in ‘n lokval te vang. “Die wet op natuurbewaring (artikel 7 van 2003) stel dit duidelik dat geen dier gelok mag word en binne ‘n lokval gevang mag word in ‘n hok of soortgelyke struktuur waaruit dit nie kan ontsnap nie.”
 ‘n Saak is by die Bulgerivier polisiestasie aanhangig gemaak deur die departement van landbou.
Intussen sê een boer, wat verkies om anoniem te bly, dat bobbejane op ‘n wilds-plaas mens nogal besig kan hou omdat aap se kind hom nie sommer laat verwilder nie en boere baie skade kan berokken. “Vir 'n geraas en geskreeu skrik hy net die eerste keer, dan beloer hy jou onderlangs terwyl hy sy kieste volstop en hande vol steel of meestal ongeërg verder vreet aan duisende rande se aangekoopte voer.”
Hierdie boer voel ook dat bobbejane opportuniste is en veel eerder wil aansit vir ete in ‘n voerbak as om kos te gaan soek in die veld. “Hulle vreet die voer op, verniel dan ook nog die waterbakke en ruk waterpype stukkend in die proses.”
Wentzel beweer dat sy bewus is van die onmin tussen boere en bobbejane, maar sy voel dat boere eerder op ’n ander manier die diere van kant moet maak. “Geen dier ver-
dien om op so ‘n wreedaardige manier gevang te word nie.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube