-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – ’n Reaksielid van Monster Security het lelik onder vuiste deurgeloop toe hy gereageer het op ’n noodroep nadat die paniekknoppie by Les Cafe Des Sport (ook bekend as Mike’s Sportsbar) Dinsdag-oggend net na 03:00 gedruk is.
“Die paniekknoppie is omstreeks 03:03 by Mike’s Sportsbar in Onverwacht gedruk en Jacques Kleynhans, een van ons lede, het om 03:07 by die perseel aangekom,” sê Francois Roets, mede-eienaar van Monster Security in Lephalale.
Volgens Roets het Kleynhans by die hoek van die kroeg binne-in die kuierplek gestaan om uit te vind hoekom die paniekknoppie gedruk is, toe vier mans hom nader en begin skoor soek. “Sover as wat my kennis strek was daar geen rede vir die konfrontasie nie en was die reaksielid net daar om sy werk te doen en die personeel te beveilig,” sê Roets.
Noordelike Nuus het beeldmateriaal van die sekuriteitskameras by Mike’s Sportsbar gesien waarin dit duidelik is dat Kleynhans die perseel betree met sy vuurwapen aan sy sy. Drie mans omsingel hom dan terwyl hy besig is om met die kroegman te praat en begin om aan hom te ruk. Die bandopname het geen klank nie, maar Kleynhans kom kalm voor terwyl die mans herhaaldelik na sy vuurwapen gryp.
Kleynhans beweeg op dan nader aan die deur, terwyl die vier verdagtes hom omsingel - dan word hy deur een van die mans op sy gesig geslaan, terwyl ‘n ander man sy vuurwapen gryp. Die persoon met die vuurwapen beweeg dan ‘n paar meter weg van Kleynhans af, terwyl hy die wapen rondswaai en dan blyk dit dat hy dit op Kleynhans rig wat dan uit die perseel vlug.
“Die polisie en addisionele lede van Monster Security is gekontak, maar teen die tyd wat hulle opgedaag het die verdagtes reeds spore gemaak,” sê Roets.
Kleynhans is Dinsdagoggend na die hospitaal geneem - sy neus is gebreek. “Die hele insident was sinneloos en gaan ons duisende rande aan mediese kostes uit die sak jaag,” sê Roets.
Die vuurwapen is na bewering deur een van die verdagtes aan die polisie oorhandig en is aan Monster Security terugbesorg.
‘n Ooggetuie beweer dat die vier mans vroegaand begin moeilikheid maak het. “Ek vermoed dat een van die personeel die paniekknoppie gedruk het omdat die mans probeer het om oor die kroegtoonbank te klim en moeilikheid gesoek het,” sê sy.
Intussen het Christene Meyer wat by Mike’s Sportsbar werk dit duidelik gemaak dat hulle geheel en al gekant is teen die soort gedrag.
“Ons poog om die plek so aangenaam te maak vir al ons kliënte as moontlik en probeer hard om te verseker dat almal wat hier kom kuier ‘n hulself geniet sonder enige van dié onnodige drama.”
0 Comments