-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LIMPOPO – Die Bosveld se boeregemeenskappe en dorpe is ongetwyfeld vierkantig in die visiere van plaasaanvallers. Daar was meer as tien ernstige plaasaanvalle en ook gereelde huisinbrake in November en Desember.
Elke jaar is daar ’n skerp toename in huisbrake, rooftogte en plaasaanvalle met die aanloop van die Desembervakansie. Die Heritage Protection Group (HPG), ‘n nuutgevormde groep wat bestaan uit polisiereserviste en vrywilligers wat die polisie bystaan tydens ernstige misdade op plase in Limpopo, sê dat misdade die laaste maand amper op ’n daaglikse basis plaasgevind het. Hul ondersoekspan het baie leidrade gevolg om die vlaag van aanvalle te ondersoek en verdagtes vas te trek. Daar was meer as ’n dosyn ernstige gevalle sedert November, wat ’n renoster stropery op Dwaalboom, die moord van Piet de Kock - ’n plaasvoorman op Doornfontein en die moord van die Lötter-egpaar op ’n plaas buite Modimolle vroeër hierdie week insluit.
Dr. Rudolph Zinn is ’n bekende misdaad- en polisiekenner en verbind tot die die forensiese ondersoek departement van Unisa. Hy is ook bekend vir sy navorsing oor teenmaatreëls wat boere kan neem om plaasaanvalle te vermy.
Zinn se kennis van huisrooftogte waaronder plaasaanvalle sorteer is gebaseer onderhoude met 30 gevonniste, huis- en plaasrowers wat elk 116 vrae beantwoord het. Die meerderheid van hierdie kriminele het erken dat hulle gereeld roof en dat misdaad vir hulle ’n voltydse werk was voordat hulle gevang is. Gemiddeld was elkeen van die 30 vir sewe-en-’n-half jaar by misdaad betrokke voor hulle vasgetrek is.
Rowers is goed georganiseerd
Hulle het hul op roof toegelê omdat dit ’n vinnige manier is om geld te kry. Zinn sê hulle is almal tussen die ouderdomme van 19-26. “Dit wys vir ons dat hulle niks met die politieke ‘struggle’ in die land te doen gehad het nie, hulle is nie slagoffers van Apartheid nie, hulle het eenvoudig ‘n onrealistiese verwagting om oornag ryk te word en besef hulle sal dit nie met harde werk kry nie,” het hy gesê.Hy het verder genoem dat 50% van huisrowe in swart woonbuurte plaasvind. “Daar kan dus nie eers gesê word dat dit ‘n politieke kwessie is nie.”
Zinn vertel dat hierdie rowers goed georganiseerd is en presies weet wat hulle doen wanneer hulle toeslaan. Daar is gewoonlik vier mense betrokke by huisrowe en gemiddeld agt by plaasaanvalle. Dit is omdat plase meer plekke het wat dopgehou moet word. Elke rower in die span is gewoonlik swaar gewapen. Hulle verkies pistole vir die intimiderende effek wat ‘n pistool het wanneer dit oorgehaal word.
Intimidasie is volgens Zinn ‘n groot faktor by hierdie misdadigers. Hulle het aan hom vertel dit is hoekom hulle mense so hardhandig hanteer en selfs partykeer die man eerste skiet wanneer hulle by ‘n huis instap. “Dan weet die res van die mense hulle is ernstig.”
Van die gevangenis het 67% hulle slagoffers ernstig aangerand, 30% het gemoor, 13% het verkrag, 3% het probeer om hul slagoffers te verkrag en 13% van hulle het hul slagoffers gemartel.
Zinn sê hulle het aan hom vertel hulle martel mense omdat hulle agtergekom het mense steek geld en waarde items weg. Van die rowers spits hulle glo toe op vroue en kinders wanneer hulle martel, dan praat die mans vinniger.
Die gevonniste rowers het aan Zinn vertel dat hulle swaar op inligting van werkers en bediendes steun om uit te vind of daar kontant by betrokke huise gehou word. In die geval van plaasaanvalle reis misdadigers van die stede af na landelike gebiede en doen dan navraag na boere se gewoontes en finansies by plaaswerkers.
Rowers slaan meestal toe tussen 19:00 en 24:00 wanneer alarms af is en televisies en radio’s mense se aandag aftrek. Op plase bly hulle in statte terwyl hulle die misdade beplan en omtrent almal in die omgewing weet hoekom hulle daar is, sê Zinn. “Dit is hoekom goeie verhoudinge met werkers van kardinale belang is,” beklemtoon hy.
Klipstapels is nie tekens nie
Zinn sê al 30 rowers sê hulle gebruik nie kode boodskappe in die vorm van klipstapels en plastiese sakke soos al in die media en op sosiale netwerke berig is nie. Hy vermoed sulke stories word opgedis deur mense wat kursusse oor plaasveiligheid aanbied.
Zinn sê die beste teenvoeter vir hierdie rowers is goeie verhoudinge met werkers, buurtwag stelsels op plase en in dorpe, diere naby die huis en veral klein hondjies binne die huis snags, net een toegangsroete vir plaashuise.
‘n Veilige omgewing is glo vir die rowers die grootste afskrikmiddel. Daarna volg die vroeë waarskuwing van ‘n alarmstelsel op ‘n heining en honde.
Sonder binne inligting sal die rowers nie toeslaan nie, want dan weet hulle nie wat om te verwag nie, maar met genoegsame inligting sien hul kans vir selfs die beste sekuriteit en alarmstelsels.
Veiligheidswenke
Dit is elkeen se verantwoordelikheid om na sy eie huis se veiligheid om te sien. Die polisie, buurtwagte en veiligheidsmaatskappye kan nie meer alleen jou omgewing misdaad-vry hou nie.
Maak dit daar so moeilik as moontlik om onregmatig in jou erf in te kom – elektriese heinings, lemmetjiesdraad en alarmstelsels is handig. Hou hekke om jou blyplek toe en gesluit.
Sorg vir goeie beligting om jou woning en die omheining om die huis moet verkieslik oop wees en nie bebos nie.
Mense wat buite die dorp woon moet seker maak hul tweerigtingradio’s is in werkende toestand en gelaai. In noodgevalle is dit die beste vorm van kommunikasie.
Binne in die huis is die beste sekuriteitsmaatreël ‘n klein hondjie wat saans in die huis slaap. Uit onderhoude wat die bekende kriminoloog, Rudolph Zinn, met meer as 40 gevonniste huisrowers in die tronk gevoer het, het dit geblyk dat honde wat in die huis slaap een van die grootste afskrikmiddels is.
Waghonde buite die huis met toegang reg rondom die huis.
Hy beveel ook aan dat mense wat weggaan oor die Kerstyd hul bure laat weet wanneer hulle weg gaan wees en indien moontlik, iemand kry om in die huis te kom bly terwyl hulle weg is.
Skei slaapkamers met ’n veiligheidshek van die res van die huis.
Tydens ’n aanval – probeer kalm bly sodat jy realisties kan dink – gee toe aan versoeke want jou en jou gesin se lewens is meer werd as jou besittings.
Onthou karaktertrekke en littekens, tatoeëermerke, bou- en lengte van die aanvaller asook taal en enige iets wat hom uitkenbaar sal maak.
0 Comments