-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
SWARTWATER – Bitter min harte is onaangeraak nadat Mígael van Dyk (18) Woensdag, 9 Desember, gesterf het in ’n motorfietsongeluk in Hans Strijdomweg in Pretoria.
Mígael, het saam met sy broer, Willem Fredrik van Dyk, sy matriek by Hoërskool Piet Potgieter voltooi in 2014. Hy het ’n passie vir Honda motorfietse gehad en was besig om by Honda Menlyn te werk en het opleiding as ’n motorfietswerktuigkundige ontvang.
“Mígael was van kleins af lief vir motorfietse,” vertel sy ma, Teresa, “ek onthou hy het sy eerste Honda motorfiets reggemaak toe hy net 10 jaar oud was.”
Op haar Facebook-bladsye skryf ’n hartseer Teresa vroeër die week: “Vanoggend huil ek vir Mígael van Dyk. Ek huil vir boetie Willem Fredrik van Dyk wat sy beste pêl verloor het en nou as enkelkind sy pad moet vind. Jy en Mig was ‘n span soos min. Ek huil vir my man Willem van Dyk. Dis vir hom hartverskeurend!”
Sy skryf ook: “Ek huil vir elke ouer wie al ‘n kind aan die dood moes afstaan. Dis vreeslik julle! Hier op aarde gaan ons hom nooit weer sien nie. Maar saam met Jesus en my ma en pa berei hulle ons plek vir ons voor in die Hemel. Dis my vertroosting. Ek verlang soos Paulus gesê het om by die Here te wees, maar om julle ontwil is ek nog hier.”
Teresa bedank namens die Van Dyk familie almal wat hulle bygestaan het en sê dat elke oproep, boodskap en gebed uit hul harte waardeer word en dat hulle krag put daaruit.
Mígael se begrafnisdiens sal Vrydag om 10:00 by die NG Gemeente (Koedoesrand) in Swartwater plaasvind.
0 Comments