-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Met die aanbreek van ‘n nuwe jaar besluit baie mense om ‘n gesonder leefstyl te volg en van daardie ekstra bietjie vet om die middellyf ontslae te raak, maar soms waai die goeie voornemens teen Februarie reeds by die deur uit.
“Ek is glad nie ‘n voorstander van kitsdiëte nie en moedig eerder mense aan om gesond te eet en ‘n oefenprogram te volg,” sê Jolene Shepherd, wat elke weeksdag Boot camp klasse aanbied.
Volgens Shepherd moet mense wat gewig wil verloor realisties wees wanneer hulle met ‘n oefenprogram begin.
“Mens tel nie oornag gewig op nie en moet daarom ook besef dat jy nie oornag die gewig kan verloor nie.”
Gerhardt Theron van Srixzone gimnasium in Lephalale stem saam.
“Dit vat ongeveer ‘n maand voordat jy self begin agter kom dat jy gewig verloor het. Binne twee maande sal die mense naby aan jou agterkom dat jy beter lyk en binne drie maande sal mense wat jou nie elke dag sien nie die verandering kan raaksien,” verduidelik hy.
“‘n Gesonde leefstyl is gebaseer op vier elemente wat insluit genoeg slaap, gesond eet, krag oefeninge en kardio oefeninge.”
Volgens Theron is een van die grootste foute wat mense maak, wanneer hul begin oefen, om hulself elke dag te weeg. “Spiere wat uitsit tydens oefening kan dalk meer wees as die hoeveelheid vet wat verbrand word, maar die persoon weeg nog steeds dieselfde. Ek verkies om eerder kliënte te meet en sodoende ‘n beter idee te gee oor die effektiwiteit van ‘n oefenprogram.”
Die tipe oefenprogram wat ‘n persoon volg sal afhang van elkeen se persoonlikheid en individuele voorkeure. “Ek vind dat mense wat daarvan hou om sosiaal te verkeer beter doen in ‘n groep terwyl introverte verkies om individuele sessies te doen,” sê Shepherd.
Iemand wat besluit om ‘n aktiewer leefstyl na te volg hoef ook nie noodwendig by ‘n gimnasium aan te sluit nie. Die Mogol Klub het elke Saterdag ‘n baie gewilde Park run waaraan oud en jonk kan deelneem terwyl Lephalale se immergroen gholfbaan altyd ‘n gewilde keuse bly.
“Mense moet onthou dat die doel met enige oefenprogram nie uitsluitlik is om gewig te verloor nie, maar eerder om ‘n gesonder gelukkiger persoon te wees wat beter slaap, beter konsentreer en ‘n beter lewenstandaard handhaaf,” sê Theron.
Vir inligting of om aan te sluit by Srixzone kan inwoners die gymnasium skakel by 084 849 4987 of info@srixzone.net.
Jolene Shepherd kan gekontak word by 072 079 8038 vir haar Boot camp klasse.
0 Comments