-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Ek voel die diere se pyn.” Só sê ‘n baie ontstelde Marcelle Maritz, bestuurder van die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging (DBV), nadat die vereniging hul hande vol gehad met talle verskrikte en gemartelde diere gedurende Nuwejaarsvieringe.
Hoewel jaarlikse vuurwerkvertonings skouspelagtig is en deel geword het van baie se tradisie om die Nuwe Jaar aan te kondig, sê Maritz, en baie diereliefhebbers stem met haar saam, dat dit ten koste is van baie diere se veiligheid. Baie troeteldiereienaars het soos elke jaar gespook om hulle diere kalm te hou.
“Mense hou eenvoudig nie by die vuurwerk wette nie en verstaan nie of gee nie om oor die skrikwekkende uitwerking wat vuurwerke op diere het nie,” voeg Maritz by. Die DBV het baie verskrikte diere versorg
waarvan sewe noodgedwonge uitgesit moes word.
Maritz het berig dat talle diere gruwelik vermink en dood is nadat hulle paniekbevange deur heinings of vensters probeer wegvlug het. Die onuitstaanbare geraas van vuurwerke word jaar na jaar deur onverantwoordelike individue afgevuur in woongebiede. Dit is ‘n strafbare misdryf, sê Maritz. Sy voeg by dat sy egter teleurgesteld is in die polisie wat volgens haar nie gereageer het op twee persoonlike klagtes oor onwettige vuurwerke wat in die woongebied afgevuur is nie.
In ‘n spesiale handleiding oor vuurwerke sê die DBV katte en honde het ‘n baie fyner gehoor as mense en is selfs sensitief vir klank en geluide wat heeltemal onhoorbaar is vir die mens se oor. Honde se gehoor is na raming vyf keer meer sensitief as mense s’n. Katte se gehoor is nog twee keer fyner as dié van honde.
Die DBV poog om vanjaar alles in hulle vermoë te doen om die afvuur van vuurwerke in die toekoms te verban.
0 Comments