-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LIMPOPO - Die voortslepende droogte het vir baie boere ’n realiteit geword en al wat daar vir hulle oor is volgens Steven Vermaak, voorsitter van die Transvaalse Landbou-unie van die Noordstreek, is om positief en op hulle knieë te bly.
“Ons (Limpopo) is eintlik nog gelukkig. Die droogte is in ander gebiede baie erger,” sê Vermaak. Hy sê die tekort aan water raak egter ’n krisis in die streek. Kuile is besig om op te droog en sowat 70% van wat reeds geplant moes wees is teruggehou weens die droogte.
“Verlede jaar dié tyd is 80% in vergely-king met vanjaar se 30% geplant,” voeg Vermaak by. Vir mielies is dit ook te laat want dit moes al geplant gewees het. Boere op die vlakte is helfte van hulle oeste kwyt as gevolg van hitte en windskade.
Die prentjie vir veeboere lyk niks beter nie, sê Vermaak. Die impak van die droogte het gelei tot vee sterftes in landelike gebiede en dwing sekere veeboere om van hulle kuddes af te skaal.
“Dié boere lei steeds ’n verlies want vee pryse het gedaal, verduidelik hy. Klomp faktore plaas erge stremming op die landboubedryf. Duurder voer wat ook moeilik bekombaar is dra by tot die uitdaging.
Alhoewel daar reeds ’n versoek gerig is aan die departement van landbou vir droogtehulp, verduidelik Vermaak dat hulp van die staat min boere opgewonde maak aangesien die sisteem te lank sloer. Hy verwys na die Wes Kaap waar droogtehulp vir R23 million goedgekeur is maar nog geen verligting gebring het nie weens die stadige trant van die proses. “Die staat se ratte is nie reg nie en hulle wiele is te stadig. Ons moes al reën gehad het om ons die komende winter deur te haal,” meen Vermaak.
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer, Agbiz het sy kommer teenoor die media uitgespreek oor die omstandighede wat voer en water vir vee betref en sê daar word nie goeie reën voorspel wat verligting kan bring nie. Purchase voorspel ’n groter impak op landbou en voedselpryse, sou die droogte voortsleep.
Volgens Lepelle Northern Water is die damvlakke vir die volgende damme dié week soos volg:
Doorndraai Dam - 80.9%
Ebenezer Dam - 77.4%
Flag Boshielo Dam - 53.3%
Magoebaskloof Dam - 100.2%
Tzaneen Dam - 42.8%
Blyderivierpoort Dam - 61.7%
Mokolo Dam het op 21 Desember ’n vlak van 83.3% teenoor verlede jaar dieselfde tyd se 101.9% getoon.
Verskeie organisasies het droogtehulpskemas op die been gebring en lesers wat op enige manier tot hierdie skemas wil bydra of help kan met hul plaaslike Agri SA of TLU SA tak in verbinding tree om uit te vind waar en hoe hulle kan help.
Intussen word daar berig dat die kwik weer sal styg vanaf 7 Januarie, maar Landbou.com berig dat daar moontlik reën en afwisseldende reënbuie verwag kan word na 10 Januarie.
0 Comments