<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Kom ons help die kinders

 
News : 01 Feb 2016 602 Viewed By Amanda Basson 0

LEPHALALE – Twee besighede van Lephalale het besluit om ander besighede in die dorp uit te daag om die kinders van The Fold kinderhuis op die Vaalwaterpad se lewens te verbeter.
Marius Benade van Midas en Mariaan Wiid van Talisman is die dryfvere agter hier-die fondsinsameling. “Die kinderhuis, wat sowat 65km buite Lephalale is, het ‘n groot behoefte aan boumateriaal wat hulle wil gebruik om selfstandig te begin funksioneer,” sê Benade.
Die geregistreerde nie-winsgewende kinderhuis word deur Philip du Plessis en sy vrou, Retha, bestuur.
“Ons het drie huise op sowat 37 hektaar en al ons kinders kom uit haglike omstandighede,” sê Du Plessis. “Ek voel dat dit regtig op my hart gelê is om persoonlik by
hierdie kinderhuis betrokke te raak en was nog nie ‘n oomblik spyt nie.”
Twee van die kinders wat by die kinderhuis woon is deur die polisie uit ‘n stal verwyder waar perde, beeste en bokke gehou is. “Toe hulle hier aankom was hulle uitgeteer en kon nie eers met ons praat nie, maar vandag is hulle ander mense wat lag en speel soos normale kinders.”
Du Plessis vertel ook van ‘n 4-jarige dogtertjie wat herhaaldelik deur ‘n man baie na aan haar familie verkrag is voor sy by hulle geplaas is.
“Ek was vir vier jaar ‘n jeugwerker by Hoërskool Ellisras en kon sien hoeveel verskil ‘n mens regtig aan kinders in nood kan maak as jy bereid is om jou hand na hulle uit te steek.”
Die kinderhuis ontvang gedeeltelike finansiële ondersteuning van kerke in Amerika, maar Du Plessis se groot droom is dat hulle self-produserend moet wees. “Ons het klaar ons groentetuin aan die gang en wil nou ook begin om hoenders aan te hou. Die kinders gebruik ongeveer 130 eiers ‘n week en as ons lê- hoenders het kan ons baie bespaar.”
Benade kan nie uitgepraat raak oor die projek nie. “Ek glo as elke besigheid in Lephalale betrokke raak sal ons in ‘n japtrap genoeg kan insamel om aan die kinderhuis se behoeftes te voorsien.”
Die kinderhuis kort onder andere ‘n hoen-derhok, hokke vir varke, skape en bokke, ‘n groentetuin, ‘n stal vir twee perde, watertenks om reënwater op te vang en boumateriaal om nog ‘n huis te bou.
Enige persoon of instansie wat betrokke wil raak kan Marius Benade kontak op
076 272 6490 of Mariaan Wiid op 082 306 7274.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube