<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Watergeveg nie verby vir Nylboere

 
News : 01 Feb 2016 223 Viewed By NoordNuus reporter 0

MOKOPANE –  Na vier jaar se teenstand blyk dit dat die Nylboere se stryd om hul water te beskerm teen mynbou nog nie verby is nie. Sylvania Platinum, wat beplan om die Volspruit myn in die vloed-vlakte van die Nylrivier op te rig, het aansoek gedoen vir mynregte op die aangrensende perseel van die Grass Valley chroommyn.
Die ou chroommyn word al sedert die 1980s nie aktief gemyn nie.
Volgens inligting, beplan die groep om die ou myn se stortingshope te herwerk en om die ou mynskagte te ontwater om weer te myn, terwyl daar op die oppervlak deur ‘n oopgrof-stelsel gemyn sal word.
Alhoewel daar na beraming sowat 59-miljoen ton platina en ander basis metale in die omgewing se grond skuil, glo boere in die omgewing steeds daar is nie genoeg water vir die plase én beplande myne nie.
Die stryd tussen die boere en Sylvania duur al sedert 2011 en die Nyl Aksiegroep, wat spesifiek gestig is om na die boere in die area se belange om te sien, glo dat die omgewing se waterbronne beskerm moet word.
Emile Honiball is die Nyl Aksiegroep se regsverteenwoordiger en sê dat alhoewel Grass Valley nie in die Nyl se vloedvlakte is nie, dit dieselfde waterbron bedreig. Hy het verder gesê dat die twee omgewingsimpakstudies wat vir Grass Valley en Volspruit gedoen is, bots.
Volgens Volspruit se studie word daar beplan om water wat invloei by hul beplande oopgroefmyn langs die rivier uit te pomp en in die ou Grass Valley myn se skagte te stoor vir die boere se gebruik. Die nuwe planne wys dat die plan nou is om die betrokke skagte te ontwater, maar geen aanduiding is gegee wat met die water gedoen sal word nie.
Albert Jordaan, die projekbestuurder van beide myne sê die twee projekte se tydsvakke sal waarskynlik nie oorvleuel nie, daarom kan Volspruit se water in Grass Valley gestoor word. Hy wys ook daarop dat die volle gebruik van die waterbron geregistreer moet weesen dat die departement van waterwese dan na gelang daarvan 'n besluit sal neem.
Die Mogalakwena munisipaliteit koop groot hoeveelhede water vir dorpsgebruik by grondeienaars in die omgewing. Die Departement Waterwese het in ‘n brief gevra dat die verkopers en die munisipaliteit syfers van hul gebruik uit hiérdie bron verskaf ten einde die volle bestaande gebruik te bepaal. Dr. Giep du Toit van Geo Pollution Technologies, die maatskappy wat die hidrologiese studies vir beide Volspruit en Grass Valley behartig het, waarsku dat die gesamentlike wateronttrekking van die myne, die landbousektor en die dorp net te veel mag wees vir die grondwaterbron wat reeds onder druk is.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube