-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Dit was weer ‘n hoogtepunt op die kalender vir Tafelaars van Tafelronde Kameeldoring 92 toe Kobus Klopper in Januarie die leisels as nuwe voorsitter vir 2016 by uitgaande voorsitter Frans Blignaut oorgeneem het. Die inhuldiging is met ‘n glansaand by The Ranch se gholfklub naby Polokwane gevier.
Nie net het die Tafelronde sy nuwe voorsitter ingehuldig nie. Hulle het ook hul jaar afgeskop met drie nuwe lede.
“My grootste doel vir die jaar is om die manne te leer waaroor tafelronde gaan en om met hulle die nodigste te deel sodat hulle in die nabye toekoms kan oorneem en die wonderlike organisasie kan laat voortleef,” sê Klopper opgewonde.
Klopper sê nog ‘n groot taak dié jaar is om Tafelronde se beeld aan die gemeenskap ten toon te stel.
“Dit is van kardinale belang dat ons gemeenskap weet waaroor die organisasie gaan om ons sodoende te kan ondersteun in toekomstige projekte,” sê die nuwe voorsitter.
Hy verwys na projekte soos die Veteraan Motors, Brille en Pille motorfiets saamtrek by die ouetehuis en die taverne by die jaarlikse Kierieklapper kunstefees.
Tafelronde beplan ook om weer die Bloedbank te ondersteun. Klopper verwys na ‘n paar “Blood drives” om hulle te help lewens red.
Hy doen ‘n beroep op die gemeenskap om hulle hierin te ondersteun deur flink te reageer wanneer die bloedbank mense nader vir bloed skenkings.
"Ons vra groot asseblief dat die inwoners van Mokopane ons die jaar sal ondersteun en ons help om ‘n verskil in ander se lewe te kan maak."
Vir meer inligting oor Tafelronde kan lesers navrae rig deur ‘n epos te stuur na kameeldoring92@gmail.com. Klopper onderneem om navrae so spoedig moontlik te verwerk.
0 Comments