-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Na vyf jaar as inspekteur by die dierebeskermingsvereniging (DBV) in Lephalale het Mariaan Wentzel eindelik besluit om die dorp te verlaat.
Na ‘n moeilike jaar, waarin Mariaan groot hartseer, maar ook blydskap ervaar het gaan sy op 6 Februarie by haar gesin in Uitenhage aansluit waar sy ook haar werk by die Uitenhage DBV sal voortsit.
Op 23 Maart is Mariaan aangeval en verkrag deur Ian Chucko, ‘n 29-jarige man van Zimbabwe. Mariaan en haar gesin was besig om by ‘n huis op ‘n hoewe net buite Vaalwater in te trek toe Chucko haar oorval het.
Hy is intussen tot 20 jaar tronkstraf gevonnis deur die Modimolle landdroshof en Mariaan het haar beywer tot bewusmaking van verkragting en kindermishandeling terwyl sy by die Lephalale DBV gewerk het.
“Ek gaan die dorp verskriklik mis, maar ek weet dat ek my diere in goeie hande los.” Mariaan verwys na die 26-jarige Sonika Oosthuizen wat haar plek sal inneem by die DBV.
Sonika het vir vier jaar as inspekteur by Middelburg DBV gewerk.
“My ouers woon al lank in Lephalale en ek het maar altyd uitgekyk vir ‘n betrekking in hierdie omgewing. Toe ek sien dat die pos by die DBV geadverteer word het ek dadelik aansoek gedoen.”
Alhoewel Sonika nog baie jonk is, voel Mariaan dat dit dalk een van die beste dinge is wat met die DBV kon gebeur.
“Sonika se lewenslus en energie gaan beslis ‘n groot voordeel wees vir hierdie dorp. Sy is ten volle gekwalifiseer vir die werk en is gereed om die leisels by my oor te neem.”
Dit is ook duidelik dat Sonika nie op haar gaan laat wag nie. “Ons moet begin om al die diere se skutte op te gradeer en ek wil ook meer bewusmakingsveldtogte begin hou.”
Sonika moedig inwoners aan om haar te kontak by 079 398 6784 oor enige pro-bleme met diere in Lephalale.
0 Comments