-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
CRECY – Die drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle vir Nico en Annetjie Mulder aangerand en beroof het, tydens ‘n plaasaanval in Januarie, se borgaansoek is verlede week deur die Mokopane Land-droshof geweier.
Die beskuldigdes sal na verwagting Vrydag (vandag) weer in die hof verskyn nadat hulle Maandag, ook tydens ‘n hofverskyning gevra het om regshulp in te win.
Die Mulder egpaar is die betrokke oggend van 10 Januarie op hulle plaashuis op die plaas Klippunt, tussen Roedtan en Mookgophong, deur drie mans oorval en aangerand nadat hulle vasgebind is. Annetjie het ernstige ribbeserings opgedoen en is in die hospitaal opgeneem.
Danksy ‘n reuse spanpoging deur lede van Die Spoorsnyers (‘n groep reserviste wat die polisie bystaan tydens plaasaanvalle), boere in die omgewing en die polisie, is die booswigte enkele kilometers van die plaashuis vasgetrek. Daar is ook beslag gelê op gesteelde vuurwapens en kontant. Die inhegtenisname van die verdagtes is ook bespoedig met die hulp van Quintus Enslin en Richard Nicolson wat onderskeidelik 'n helikopter en vaste vlerk vliegtuig aangewend het om vanuit die lug ‘n arendsoog op die operasie te hou.
“Ons is teleurgesteld in die onnodige vertraging van die saak. Hierdie slagoffers is erg mishandel en gemartel. Die reg moet sy gang gaan en die misdadigers moet gestraf word,” het Ockert Scherman, Japie Spanio en Nantes Kelder as verteenwoordigers van die Transvaalse Landbou-unie (TLU) na die hofverskyning gesê. Kelder, ‘n oud polisiebeampte en verteenwoordiger van Afriforum, bied ook trauma ontlonting aan slagoffers van plaasaanvalle.
0 Comments