-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Boomeekhoringstraat in Silver Charms het verlede Donderdag lelik deurgeloop toe honde by twee huise in die straat vergiftig is en ‘n motorfiets gesteel is.
“Die skurke het die sement palisades by die een muur verwyder én ‘n gat onder die elektriese heining gegrawe om my man se BMW motorfiets te steel,” vertel Linda Visser.
Die Vissers het Vrydagoggend hul drie klein patryshonde (cocker spaniels) dood in die erf gekry nadat hulle vermoedelik gif ingekry het. “Ons buurman oorkant die straat het twee groot honde wat ook vergiftig is, maar daar is nie by hom ingebreek nie,” het Visser gesê.
Die motorfiets is vermoedelik deur ‘n oop stuk veld skuins oorkant die Vissers se huis gestoot tot by Nelson Mandela rylaan waar dit op ‘n voertuig gelaai is. “Ons was baie teleurgesteld met die polisie se diens tydens die insident," sê sy. “Die voetspore van die verdagtes is nie beveilig nie en die polisie het volgens ons nie genoeg gedoen om leidrade op te volg nie.”
Die Vissers vra die gemeenskap om op die uitkyk te wees vir die motorfiets. “Ons het twee luidsprekers agter op die motorfiets ingesit waaraan die motorfiets duidelik uitgeken kan word.”
Adjudant offisier Frans Mokoena van die Lephalale polisie het bevestig dat ‘n saak van diefstal aangemeld is maar beweer dat hy nie kennis dra van enige klagtes oor die polisie se optrede op die toneel nie. “Indien klaers ontevrede is met die diens wat hulle kry moet hulle die stasie in kennis stel sodat daar aandag aan die probleem geskenk kan word,” het hy by navraag gesê.
Indien iemand die motorfiets gewaar kan hul met die Lephalale polisie in kontak tree by 014 7633672.
0 Comments