-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Eers is die padtekens in Peter Mokaba straat met spuitverf bygedam en toe word dit sommer heeltemal uitgeruk deur die booswigte.
Volgens Sybil Nieuwoudt, DA raadslid in die omgewing, het inwoners in Peter Mokaba straat en omliggende strate haar vroeër die maand genader oor padtekens wat met spuitverf gevandaliseer is. “Skaars twee weke later is ek ingelig dat die padtekens uitgegrawe is en langs die pad lê.”
“Die stadsraad het nie genoeg fondse om die padtekens elke twee weke te vervang nie en dit hou ook ‘n gevaar in vir padgebruikers wat nie die strate ken nie en ‘n ongeluk kan veroorsaak omdat die tekens nie daar is nie.”
Thys Eloff, voorsitter van die gemeen-skapspolisiëringsforum (GPF), het by ‘n GPF-vergadering genoem dat dit nie net Peter Mokaba en omgewing is wat deurgeloop het nie. “Die stopteken in Barendstraat en verkeerstekens op die eiland by Hendrik
Pistoriusstraat is ook omgedolwe.”
Eloff voer aan dat dit moontlik die werk is van iemand wat ‘n vierwielaangedrewe voertuig ry.
“Dit lyk asof dit iemand is wat die verkeerstekens dalk met opset omry.”
By navraag het die Lephalale polisie bevestig dat hulle kennis dra van die voorvalle. “Enigiemand met inligting word versoek om met die polisie in aanraking te kom of die
dienssentrum te skakel,” het Eloff gesê.
0 Comments