-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Die 25-jarige man wat verlede week aangedui het dat hy skuld wil beken op die klagte van aanranding nadat hy glo die oordbestuurder van ‘n vakansie oord buite Mookgophong met ‘n hamer aangerand het, se hofsaak in die Mokopane streekhof is uitgestel vir verdere ondersoek.
Boiki Motaung, ‘n werknemer van die Bothania Hills vakansie oord het na ‘n klaarblyklike geskil met Gillian Foster (die bestuurder van oord) haar herhaaldelik met 'n hamer oor haar kop en gesig geslaan en met haar Fiat Palio weggery.
Motaung is later in Heidelberg in hegtenis geneem en Foster se voertuig is ook by sy woning gevind.
Foster het ernstige kopbeserings opgedoen en het aanvanklik in die Mokopane Hospitaal beland. Sy is toe na Unitas Hospitaal in Pretoria oorgeplaas waar sy tans gespesialiseerde behandeling ontvang.
Netwerk24 berig dat Foster verskeie steke aan haar kop, gesig en neus moes kry. Sy het glo ook geheueverlies en kan nie alles van die aanval onthou nie.
Motaung, wat steeds in aanhouding is, sal na verwagting op 11 April weer voor die Mokopane streekhof verskyn. Landdros Gerhard Pretorius het Woensdag gesê die misdaad is ernstig van aard en meer hieroor kan bepaal word sodra Foster in staat is om ‘n verklaring af te lê.
Motaung sal dan formeel kan pleit.
0 Comments