<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Depressie onder tieners: 'n werklikheid

 
News : 11 Apr 2016 340 Viewed By NoordNuus reporter 0

Die land is geruk deur drie tieners wat hul eie lewens geneem het slegs dae uitmekaar in onderskeidelik Limpopo, Noordwes en Mpumalanga.
Die drie tieners was almal hoërskool leerders tussen 15 en 17 jaar oud.
 “Talle ouers meen dat depressie nie hul kinders kan affekteer nie, maar dit is nie waar nie. Selfs in gelukkige stabiele gesinne kan depressie voorkom,” sê Samantha Marais, ‘n kliniese sielkundige wat aangehaal word op Solidariteit se webblad.
“Die simptome van depressie in kinders wissel van kind tot kind. Sodanige depressie word dikwels nie gediagnoseer en behandel nie aangesien die simptome afgemaak word as normale emosionele en sielkundige veranderings wat plaasvind in kinders terwyl hulle grootword.”
Volgens Marais is die vernaamste simptome van depressie in kinders voortdurende gevoelens van verdriet en wanhopigheid asook skielike gemoedswisselings.
Ander belangrike simptome kan insluit: ‘n verandering in eetlus, emosionele uitbarstings, verandering in slaappatroon, ‘n kind wat hom-/haarself isoleer, sosiale onttrekking en ‘n kind wat ewe skielik begin praat van dood of selfdood.
Statistieke deur die South African Depression and Anxiety Group (SADAG) het gevind dat een uit vyf jongmense selfdood probeer pleeg in een of ander stadium van hul jong lewens terwyl 38,3% van tieners so depressief gevoel het dat hul mediese hulp moes ontvang. Selfdood is verantwoordelik vir ‘n skrikwekkende 9,5% van alle onnatuurlike sterftes onder tieners.
Die hoogste risikogroep vir tieners om hulself om die lewe te bring sluit in: as ‘n kind reeds voorheen probeer het om sy eie lewe te neem; as daar ‘n geskiedenis van depressie en selfdood in die familie is; as die tiener alkohol of dwelms misbruik; as die kind voorheen seksueel of fisiek mishandel is; indien hy/sy ‘n chroniese siekte, gestremdheid of leerprobleme het; as daar familietwis of swak ouer-kind verhoudings is; as daar ‘n onlangse sterfte of egskeiding was; as daar ‘n ontwrigting in sy/haar lewe was soos ‘n verandering in vriende of verhuising en indien hy/sy aan geweld blootgestel is.
Marais waarsku dat kinderdepressie ernstig en langdurig kan wees en sê dis raadsaam om jou kind so gou as moontlik deur ‘n bevoegde persoon te laat behandel.
“Ouers moet nie net op die depressiewe kind se gedrag fokus nie maar ook die moontlike redes vir die depressie.
Is daar byvoorbeeld konflik in die huis? Hoe gaan dit by die skool? Word jou kind dalk afgeknou? Is daar spanning met vriende? Miskien ‘n romantiese verhouding wat skeefgeloop het?”
Goeie kommunikasie met jou kind is van uiterste belang as jy dalk depressie by hom/haar veromoed.
“Jy moet altyd so ‘n vertrouensverhouding met jou kinders hê dat hulle die vrymoedig-heid het om openhartig oor al hul vrese en kwellinge met jou te praat," sê Marais. "Neem jou kind na ‘n dokter indien nodig en vra hom oor moontlike medikasie- en behandelingsopsies."
"Wees openhartig met jou kind as ‘n
spesifieke terapie voorgeskryf word en verduidelik dat om hulp te kry niks is om oor skaam te wees nie,” sê sy.
Marais raai ouers aan om altyd hul kinders se gesondheid, welsyn, veiligheid en gemoedsrus te bevorder.
“Die grondslag van voortreflike geestesgesondheid sluit in ‘n gesonde dieet, genoeg slaap en oefening asook 'n aangename,
positiewe atmosfeer in die huis.”
Vir meer inligting, gaan na http://welstand.solidariteit.co.za/kinders-met-depressie-n-tragiese-werklikheid/).
 

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube