-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LIMPOPO – Is misdaad, veral inbrake, in sekere dorpsgebiede eintlik georganiseerde misdaad? Noordelike Nuus het ondersoek ingestel.
Hoe dikwels hoor ons van meer as een inbraak in ’n area of selfs 'n spesifieke straat binne ’n kwessie van dae, dan volg weke se stilte en vrede voordat ’n ander buurt se honde weer vergiftig word. Inwoners word aangeraai om nooit té gerus te raak wat hulle veiligheid aanbetref nie, maar om voortdurend op hul hoede te bly.
“Mens is geneig om te dink ‘misdaad sal my nie tref nie’,” sê Martin van Eck, sekuriteit bestuurder van Special Operations Solutions (SOS), ’n sekuriteitsfirma in Mokopane.
Van Eck sê, en die polisie stem saam, dat misdadigers voortdurend nuwe vaardighede en taktieke aanleer en só hulle eie vorm van misdaadintelligensie werf.
Mens word tot werklikheid geruk wanneer kenners in misdaadbekamping vertel dat misdadigers nie net fokus op plotte en plase nie en dat groepe in dorpe rondbeweeg opsoek na maklike teikens. Huise wat deurloop onder inbrake en gesinne wat aangeval word is in baie gevalle die handewerk van misdadigers wat sekuriteitstelsels goed ken asook die inwoners se roetines ken. Die inbrekers word selde betrap en weet hulle het min tyd en moet vinnig te werk gaan. Soms is dit maklike items wat gesteel word, soos gereedskap uit ’n motorhuis, ander kere is dit ernstig en die misdadigers is gewapen en breek by huise in.
Van Eck sê paraatheid speel ’n baie groot rol in die voorkoming van misdaad. “Voorsorg is beter as nasorg en mag dalk klink na ’n cliché, maar dit is verseker die waarheid.”
Sindikate is afhanklik van inligting wat onwetend aan hulle deurgegee word.
Alhoewel daar geglo word dat huishulpe en tuinwerkers blameer kan word vir die meerderheid inligting wat uitlek, is dit nie noodwendig die geval nie. Inbrekers kan tot vir weke lank ’n eiendom dophou. Die lengte van jou gras in en voor die erf, opgehoopte pos en vullissakke wat nie uitgesit word nie is vir misdadigers ’n aanduiding dat niemand by die huis is nie. Deure en hekke wat wawyd oopstaan is moeilikheid soek.
“Blaffende honde moet nie stilgemaak word nie,” sê van Eck. Hulle blaf om ’n rede en sien of hoor waarskynlik iets.
Veiligheidswenke
Dit is jou verantwoordelikheid om jou huis te beveilig. Die polisie, buurtwagte en veiligheidsmaatskappye kan nie alleen jou omgewing misdaad-vry hou nie.
Maak dit daar so moeilik as moontlik om onregmatig in jou erf in te kom – elektriese heinings, lemmetjiesdraad en alarmstelsels is handig.
Hou hekke gesluit.
Sorg vir goeie beligting om jou woning en die omheining om die huis moet verkieslik oop wees en nie bebos nie.
Mense wat buite die dorp woon moet seker maak hul tweerigtingradio’s werk en is gelaai. In noodgevalle is dit die beste vorm van kommunikasie.
Binne in die huis is die beste sekuriteitsmaatreël ‘n klein hondjie wat saans in die huis slaap. Uit onderhoude wat die bekende kriminoloog, Rudolph Zinn, met meer as 40 gevonniste huisrowers gevoer het, het dit geblyk dat honde wat in die huis slaap een van die grootste afskrikmiddels is en waghonde buite met toegang reg rondom die huis.
Skei slaapkamers met ’n veiligheidshek van die res van die huis.
Mokopane inwoners kan SOS se noodnommer skakel vir bystand by tel:
015 004 0444. In Lephalale kan die GPF se dienskamer nommer 081 701 1089.
0 Comments