-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Die Endangered Wildlife Trust (EWT) het verlede Donderdag swaar klem gelê op die feit dat die kwynende getal aasvoëls so kommerwekkend is as die kwynende getalle van renosters, leeus en olifante. EWT het ’n werkswinkel vir belangstellendes aangebied by Exxaro se Manketti Lodge.
“As ons na statistiek kyk kom daar nog ongeveer 20 000 witrenosters, ongeveer 5 000 swartrenosters, 250 000 olifante en 3 000 leeus in Suid Afrika in die wildernis voor, terwyl sommige aasvoël tipes amper heeltemal uitgesterf het,” het André Botha, ‘n bewaringsbeampte wat die werkswinkel aangebied het, gesê.
Die plaaslike Kransaasvoël is een van die mees algemene aasvoëlspesies wat voorkom. “Ons weet van ongeveer 8 000 van hulle. Daar is onder andere ‘n kolonie broeipare wat op Marakele Nasionale Park net buite Thabazimbi in die klowe voorkom.”
Die verband tussen renosters en aasvoëls eindig nie net by die kwynende getalle nie, maar albei diersoorte is ook ‘n teiken vir wildstropers. “Stropers sal soms die karkas van ‘n renoster of olifant vergiftig omdat hulle weet dat die dooie dier aasvoëls sal lok,” sê Botha. Die stropers wag dan tot die voëls vrek en sny hul koppe en pote af om aan sangomas te verkoop. “Die liggaamsdele word as tradisionele medisyne (muthi) verpak en verkoop onder die voorwendsel dat die persoon wat die gebruik die vermoë sal hê om in die toekoms in te kyk.”
Volgens Botha is dit gevaarlik om hierdie tipe 'medisyne' te gebruik aangesien die gif wat deur stropers gebruik word deur die voël se liggaam geabsorbeer word en steeds in klein hoeveelhede in die 'medisyne' kan voorkom. “Die effek van die gif sal nie dadelik opmerklik wees nie, maar met herhaaldelike gebruik kan dit beslis tot gesondheidspro-bleme of selfs die dood van die gebruiker lei.”
Aasvoëls is vatbaar vir vergifting weens die manier waarop hul eet.
“Hierdie voëls eet net dooie diere en sal ook in ‘n groep eet wat beteken dat dit maklik is om ‘n groot hoeveelheid aasvoëls op een slag te dood deur ‘n karkas met gif te besmet.”
Hierdie majestueuse voëls plant stadig voort en is eers gereed om te broei as hulle ses jaar oud is. “’n Groot gedeelte van die aasvoëls wat gedood word is jonger as vyf jaar oud - dit beteken dat hul nooit die kans gehad het om voort te plant nie,” sê Botha.
In ander Afrika lande het mense geleer om in harmonie met die voëls te lewe. “In Wes Afrika loop die voëls vrylik tussen die tafels van restaurante om die afval kos te eet en hul speel ook ‘n belangrike rol om die stede skoon te maak.”
Botha en sy span werk reg oor Suid
Afrika en doen 'n beroep op mense om hom te kontak indien hulle vermoed dat 'n aasvoël op hul grond vergiftig is."Dit is baie belangrik om die toneel reg te benader om te verseker dat ander diere in die omgewing nie ook deur die gif gedood word nie.”
Botha kan gekontak word op sel:
082 962 5725.
0 Comments