-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Die bewoë ma van Monique Barnard (19) het Woensdag gepleit dat enigiemand wat inligting het oor waar haar dogter moontlik kan wees na vore sal kom. Monique het verlede Donderdag in die vroeë oggendure verdwyn nadat sy na bewering in ‘n argument met haar vriend betrokke was.
Monique het haar ma, Louise Loubser, verlede Woensdag (6 April) gebel en glo gesê dat sy en haar vriend baklei het. “My kind was baie ontsteld, maar ons het die hele aand vir mekaar boodskappies gestuur en ek het gedink dat alles beter was.”
Donderdagoggend het Louise vir Monique probeer skakel maar die foon was af en is sedertdien nog nie weer aangeskakel nie.
Monique het onlangs na Lephalale verhuis van Vanderbijlpark af en het by haar mansvriend gaan woon.
“Monique se vriend het vir my gesê dat sy omstreeks 01:00 Donderdagoggend met ‘n klein tassie vol klere by hul tuiste in Kameeldoringstraat uitgeloop het; en dat sy het nie ‘n sent by haar gehad het op daardie stadium nie,” sê Louise. Sy het daarna spoorloos verdwyn.
“Ek het al ons familielede gekontak en sovêr as moontlik met haar vriende gepraat, maar niemand het my kind gesien of van haar gehoor nie.”
Louise sê Monique ly aan depressie en epilepsie. "Ek het gevoel dat alles goed gaan met haar, omdat sy altyd so positief was as ek met haar praat.”
Volgens Louise het slegs een keer van te vore weggeloop om by familielede te gaan bly. “Sy het egter die hele tyd met my in kontak gebly en vir my gesê waar sy is; die feit dat haar foon af is, is vir my baie kommerwekkend.”
“Monique se vriend het ook vir my gesê dat hy vermoed dat sy dalk haar foon verkoop het om ‘n buskaartjie te koop na Johannesburg, ek het daarom foto’s van haar by die bus depot gaan los, en vir die personeel gevra om my te kontak as hulle haar gewaar, maar sovêr het niemand vorendag gekom wat haar gesien het nie,” vertel Louise.
Sy het Monique as vermis by die polisie aangemeld en het ook kontak gemaak met die Pink Ladies, ‘n organisasie wat help om vermiste persone op te spoor. Foto's van Monique en haar inligting is reeds wyd op Facebook versprei.
Monique het bruin hare en bruin oë. Sy het 'n swart hemp met bandjies en 'n swart sweetpakbroek aangehad voordat sy verdwyn het.
Enigiemand wat weet waar Monique haar bevind of enige inligting het wat kan help om haar op te spoor, kan Louise direk skakel by 082 267 4254 of die Lephalale polisie op 014 762 1000.
Intussen het adjudant offisier Frans Mokoena van die Lephalale polisie ook bevestig dat ‘n vermiste persoon verslag geopen is en dat die polisie besig is om leidrade op te volg om Monique te probeer vind.
0 Comments