-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Met meer as 13 toekennings het Chris van Zyl verlede Dinsdag, 12 April, weggestap met sy Baccalaureus Legum (LL.B) graad in regte wat hy met lof geslaag het aan die Universiteit van die Vrystaat. Chris is sedert Januarie‘n junior onderwyser by Mokopane Destiny Academy (MDA).
Onder Chris se toekennings vir 2015 is die dekaansmedalje vir die beste presteerder in die fakulteit regsgeleerdheid, die Balieraad-prys vir die LL.B student met die beste prestasie in die finale studiejaar, die Honey en Vennote-prys vir die beste student in Derdepartyvergoedingsreg, die LexisNexis Butterworths-prys vir die beste student in internasionale regte, die Appie Steenkamp Wisseltrofee vir beste prestasie in regsfilosofie en die Moritz Bobbert-penning vir studente wat die LL.B-graad summa cum laude slaag met 80% of meer.
“’n LL.B maak deure oop na verskeie tipes loopbane,” sê Chris. “Ek glo dat dit in lyn is met God se lewensplan vir my.”
Dié slimkop sluit hom aan by sy ouers, Christo en Lourina van Zyl, wat in 2015 na Mokopane verhuis het. Hy is tans ’n junior mentor vir die hoërskoolleerders by MDA en glo dat die skool uitstekende voorbereiding bied vir sy leerders se toekoms. “Dit is voorwaar vir my ’n voorreg om saam met personeel te werk wat opreg omgee vir die leerders van MDA.”
Chris, wat oorspronklik van Laingsburg afkomstig is, het sy matriek verwerf by ‘n Laingsburg Destiny Academy. Hy was nog
altyd ’n akademiese uitblinker maar het ook “’n onblusbare liefde vir leer en die verkryging van kennis.”
“Dít,” sê hy, “tesame met durf, moed, deursettingsvermoë en ’n gesonde passie vir harde werk, kan maak dat ’n mens sukses behaal, hetsy in akademie, sport, sang of enige ander rigting.”
Chris sê dat hy al sedert sy tweede jaar, werksgeleenthede by regsfirmas aangebied is, maar dat hy vir eers gelukkig is by MDA. “Ek dink dit is beter om ’n mens se werk te geniet as om ’n mens se salaris te geniet.”
Die toekoms wink en Chris het reeds planne om in 2017/2018 sy LL.M te voltooi.
Sy grootste strewe bly egter om God te behaag en Sy wil te doen.
0 Comments