-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Daar is nog geen teken van die 19-jarige Monique Barnard wat twee weke gelede spoorloos verdwyn het nadat sy en haar vriend na bewering in ‘n argument betrokke wasn nie.
Monique het glo gedurende die oggendure van 14 April met net ‘n klein tassie vol klere en haar selfoon uit die huis gestap waar sy en haar vriend gewoon het. Sy het vroeër die aand vir haar ma, Louise Loubser, ‘n selfoonboodskap gestuur dat sy en haar vriend ‘n argument gehad het.
“Ek het van dié Donderdagoggend af probeer om vir Monique in die hande te kry op haar selfoon, maar dit was afgeskakel en is nog nooit weer aangeskakel nie,” het
Loubser gesê.
Die Pink Ladies, ‘n organisasie wat help om vermiste persone op te spoor, en die polisie is in kennis gestel van Monique se verdwyning. “’n Anonieme vrou het glo die Pink Ladies geskakel en gesê dat sy Monique vroeg die betrokke Donderdagoggend van haar verdwyning by ‘n parkeerarea in Lephalale gesien het,” het Louise Woensdag-oggend gesê. Die vrou het glo beweer dat Monique saam met ‘n groep jongmense in ‘n voertuig geklim het. “Sy sê die bestuurder van die voertuig het Monique op die Modimolle pad net buite Lephalale afgelaai.”
Die vrou wou nie haar naam aan die Pink Ladies gee nie en het geen kontakbesonderhede gelos nie. Sy kon ook nie sê wie die bestuurder van die motor was nie. Daar is dus geen manier om die inligting na te gaan nie.
Intussen het adjudant offisier Frans Mokoena van die Lephalale polisie gesê dat ‘n saak van ontvoering saam met die vermiste persoon verslag ondersoek word. “Ons is besig om alle leidrade op te volg en het al met verskeie van Monique se vriende kontak gemaak in ‘n poging om haar op te spoor.”
Enigiemand met inligting kan Louise direk skakel by 082 267 4254 of die Lephalale polisie op 014 762 1000.
0 Comments