<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Vuurwerk eis vrou se vingers

 
News : 21 Apr 2016 2818 Viewed By Amanda Basson 0
LEPHALALE – ‘n Vuurwerk wat vir ‘n kers verwar is, het twee vingers van ‘n bekende inwoner van Lephalale geëis.
Volgens Leané Nel, Corrie Elmes (68) se kleindogter, was daar ‘n kragonderbreking op hul plaas net buite die dorp. Elmes wou ‘n kers aansteek. “Ek vermoed dat die vuurwerk agtergebly het toe van die kleinkinders oor Desember by my ouma kom kuier het en sy het dit aangesteek onder die indruk dat dit ‘n kers is.”
Die vuurwerk het in haar hand ontplof en Nel het met haar ouma na die Lephalale Mediclinic gehaas waar sy gestabiliseer is. “Woensdagoggend het ek my ouma na die staatshospitaal in Garankuwa geneem omdat sy nie aan ‘n mediese fonds behoort nie.”
Nel sê hulle was ontevrede met die mediese diens by die staatshospitaal. “Ons familie het lenings aangegaan en fondse ingesamel en my ouma is Vrydagmiddag na Glenwood Life hospitaal in Benoni oorge-plaas.”
Elmes is Saterdagoggend geopereer en het ongelukkig haar ring- en middelvinger aan haar regterhand verloor. “Dit gaan nou baie beter maar ons het nog ‘n uitstaande hospitaalrekening van omtrent R203 000 wat betaal moet word.”
Elmes en haar man, Hennie, het vir baie jare Impala Break and Clutch besit. “My oupa is in April 2015 oorlede nadat hy ‘n beroerte gehad het en sedertdien woon ek en my ouma op die plaas waar hulle gewoon het.” ‘n Fondsinsamelingsprojek is van stapel gestuur om te help om die kostes te dek. “Ons waardeer almal se ondersteuning en kan nie genoeg dankie sê aan almal wat ons bystaan tydens hierdie moeilike tyd nie.”
Enigiemand wat ‘n donasie wil maak kan met Leané kontak maak op 076 119 6872.
 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube