-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die toelaatbare ouderdom waarop tieners by die sosiale netwerk, Facebook, mag aansluit is 13 jaar. Die enigste sekuriteit vraag is die kind se geboortedatum, daarna word die profiel binne ’n minuut geskep.
Anders as koerante en tydskrifte, het sosiale netwerke geen reëls wat hul aan bande lê nie – niks is taboe nie. Enige foto’s kan gedeel word, valse inligting en skinderstories is volop en dikwels word stories verdraai en voorgesit as die waarheid deur groepe met hul eie agendas. Facebook het wel ’n funksie waar pornografiese materiaal, gewelddadige en enige ander ongepaste foto’s en inhoud aangemeld kan word, maar dikwels is die skade dan reeds gedoen.
Die internet is toeganklik, enige kind met ‘n slimfoon kan binne minute ‘n profiel op Twitter, Facebook, Instagram en ander netwerke hê. Selfs met die strengste privaatheid instellings is daar nie genoeg filters om jou kind te beskerm nie.
Imogen van Wyk, program bestuurder van GOLD Mokopane, sê dit is belangrik dat ouers betrokke is in hul kinders se lewens. “Dikwels is tieners nie emosioneel gereed vir dit waaraan hulle blootgestel word nie,” verduidelik sy. “Daarom is dit baie belangrik dat jy gaan sit en vir jou kind verduidelik waarvoor sosiale media gaan.”
Sy sê dat jy as ouer vir jou kind moet verduidelik wat die doel van sosiale netwerke is. Kinders probeer dikwels aandag trek of die goedkeuring van hul vriende kry. “Wat is die doel van die foto wat hy of sy deel – is dit om aandag te trek en die ego te streel of is dit om met vriende interaksie te hê?”
“Wanneer kinders se basis by die huis reg is en hulle weet hoe om hulself te handhaaf, leer hulle baie gou watter vriende om te volg en watter vriende of kennisse hulle negatief beïnvloed.”
Facebook gebruikers moet ook besef dat privaat inligting, soos hul telefoonnommer, adres, skool en so meer vir almal te sien is tensy jy jou sekuriteit so stel dat dit nie sigbaar is nie. Kinders plaas dikwels foto’s (dink aan 'selfies') en persoonlike inligting. Dit laat kinders kwesbaar vir boodskappe en versoeke van vreemdelinge (wat dikwels nie eerbare intensies het nie), teistering deur ander kinders, groepsdruk en toegang to ongepaste groepe en individue.
Ruben van Straten is die jeug pastoor van die Volle Evangelie Kerk in Mokopane en ook ‘n gesertifiseerde rekenaar tegnikus. “Tieners soek aanvaarding en probeer dit dikwels op sosiale netwerke kry,” sê hy. “Tieners leef gou in ’n ‘valse’ realiteit.”
“Die grootste gevaar wat sosiale netwerke kan inhou is seksuele oortreders wat meer volop is as wat ouers besef,” waarsku Ruben. “Om kinders Facebook en Twitter te verbied is nie die oplossing nie.”
“Bevriend jou kinders op Facebook en dan kan jy hul aktiwiteit dophou,” sê hy. “As ‘n jeugleier kan ek sê dat die impak van sosiale netwerke nie ignoreer kan word nie en dat onkunde nie eendag ’n versko-ning gaan wees as jou kind in die moeilikheid is nie.”
“As ouer is jy deur God daar geplaas om oor jou kind wag te hou en hulle te beskerm teen alle
gevare,” sê hy en voeg by dat hy glo in die krag van gebed en dat dissipline en baie liefde ’n goeie basis is om van te begin.
’n Paar riglyne om jou kind te beskerm:
- Privaatheid instellings is baie belangrik - gebruik dit (privacy settings).
- Aanvaar slegs vriend versoeke van mense wat jy ken (indien jy ’n ouer is, maak seker dat jy op jou kind se vriende-lys is en dat jy nie self dalk ongepaste materiaal versprei nie).
- Wis ongepaste video’s, foto’s of plasings onmiddellik uit (asook die ‘vriende’ wat dit geplaas of gedeel het indien nodig). Gebruik die Unfriend en Unfollow funksies.
- Moet nie ongepaste foto’s plaas nie – onthou enige iemand kan jou foto’s van sosiale netwerke
afhaal en gebruik vir eie gewin.
- Maak seker jou kind weet wat is aanvaarbaar en wat is nie.
Ruben het ook aangebied om ouers wat graag meer inligting wil hê oor die gevare van sosiale netwerke te woord te staan of ouers wat sommer net bekommerd is oor hul kinders kan hom gerus skakel op 076 987 0755.
0 Comments