-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE - Sylvania Platinum, se omgewingsaansoek is vol onbevestigde aannames en spesialis verslae weerspreek mekaar. So sê die Limpopo departement vir Ekonomiese ontwikkeling, Omgewing en Toerisme (LEDET) in sy afkeuringsbrief aan die beplande Volspruit myn se projekbestuurder, Albert Jordaan.
Die departement sê die myn word beplan in ‘n gebied waar matige tot hoë potensiaal landbougrond onder besproeiïng is. “Indien die aansoek goedgekeur word sal dit ekstra druk op landbou-aktiwiteite plaas wat bydra tot voedselsekuriteit,” lui die brief.
Die departement sê ook dat mynbou nie versoen kan word ment die bestaande grondgebruik aktiwiteite in die omgewing nie.
In die Ledet verslag word daar verwys na ‘n brief van Mnr. Steve Collins van die Limpopo River Basin Commission (LRBC) wat sê dat die Nyl, as deel van die Waterberg, ‘n sleutelbron van water vir die Limpopo rivierkom is. Die LRBC, wat gesamentlik deur Suid-Afrika, Botswana, Mosambiek en Zimbabwe op die been gebring is, het ook ‘n studie gedoen wat gewys het daar is reeds te min water om in die omgewing se aanvraag te voorsien. “Met die verwagte ekonomiese en bevolkingsgroei gaan die situasie net vererger,” waarsku die departement.
“Vanuit ‘n volhoubaarheid en voedselsekerheidsoogpunt is dit belangrik om nie verdere druk op die opvangsgebied te plaas met addisionele grondbenuttingsaktiwiteite nie, daar moet eerder deur die staat en privaatsektor gefokus word op strategieë en projekte om meer water aan landbou te verskaf,” sê LEDET in sy brief. Die departement sê die provinsie het reeds ‘n tekort aan goeie landbougrond en dat die huidige droogte en gevolglike mielietekort hierdie swakhede duidelik uitwys. “Volspruit en die omliggende plase is hoë potensiaal landbougrond waarvan 240ha deur die beplande mynaktiwiteite gesteriliseer sal word. Ons kan dit nie bekostig nie.”
Die provinsiale landboudepartement het ook die myngroep se aansoek teengestaan.
Jordaan sê Sylvania is telleurgesteld in die departement se bevinding. “Dit vertraag die proses, maar ons is besig om te kyk na ons opsies,” sê hy en voeg by dat die departement na sy mening van die omgewingsaansoek se aanbevelings en bevindinge verkeerd geïnterpreteer het.
Die Nyl Aksiegroep se regsverteenwoordiger, mnr. Emile Honiball, het egter die LEDET besluit verwelkom. “Ek moet die departement gelukwens. Hulle het ‘n baie volledige beslissing gegee wat al die bekommernisse van die Nyl Aksiegroep aanspreek.”
Honiball sê hy is nie seker of Sylvania met ‘n appèl teen hierdie besluit sal slaag nie. “Hulle sal waarskynlik opnuut moet aansoek doen en oorbegin met die hele proses. Ek kan egter nie sien hoe hulle om die feit dat daar reeds te min water is gaan kom nie.”
Sylvania het ook aansoek gedoen om ‘n ou Chroommyn naby aan die Volspruit projek weer in die lewe te roep. Die Nyl Aksiegroep staan dit ook tee.
0 Comments