<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Waar is die polisie dan?

 
News : 29 Apr 2016 250 Viewed By Amanda Basson 0

LEPHALALE – Inwoners van Lephalale wat die afgelope naweek deur huisbrake geraak is, is behoorlik omgekrap. Hulle beweer dat die polisie laat of glad nie by tonele opgedaag het nie nadat hulle gebel is.
Die beweerde nalatigheid van die polisie het ‘n vloedgolf uitlatings op Facebook tot gevolg gehad nadat een vrou beweer het dat sy die polisie geskakel het toe iemand aan haar huis se deure geruk het. Die polisie het egter eers die volgende oggend die toneel besoek toe die gevaar lankal reeds verby was en die vermeende inbreker nie daarin kon slaag om die deur oop te forseer nie.
Dit was glo nie die enigste huisbraak voorval was wat die naweek voorgekom het nie en nie die enigste geval waar die huisbewoners beweer dat die polisie net eenvoudige nie opgedaag het nie.
Thys Eloff, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het in ‘n onlangse GPF-vergadering gesê dat dit kommerwekkend is dat die polisie se afwesigheid in die dorp so opvallend is. “Ek het onlangs een naweek patrollie gery as deel van my GPF-dienste en het letterlik deur die hele dorp gery sonder om een polisievoertuig teë te kom.”
Tydens dieselfde vergadering het konstabel Mike Ramphaga, sektor bevelvoerder in Onverwacht, genoem dat daar ‘n toename in huisbrake en dwelm verwante misdade in Lephalale is.
“Ek wil nie bewerings maak dat die polisie geensins hul werk doen nie, maar as ons na die situasie kyk soos wat die tans is, kan ek beslis sê dat hulle nie genoeg doen nie,” het Eloff gesê.
Volgens adjudant offisier Frans Mokoena, woordvoerder van die Lephalale polisie, is daar sewe polisielede op elke skof. “Ons moet egter onthou dat hierdie lede ook op verlof en siekverlof geregtig is en dat dit soms die skofte wesenlik uitdun.”
Addisioneel tot die sewe aanklagkantoor lede wat op die skofte is, is daar ook een voertuig per sektor vir die vier sektore waar-in Lephalale, Marapong en die omliggende plase gedeel is. “Daar is twee lede in elke voertuig wat al die klagtes van daardie spesifieke sektor behartig.”
Mokoena voer ook aan dat klagtes volgens prioriteit aandag kry. “Ons het te min lede om al die klagtes by te woon en raak soms agter met die hoeveelheid klagtes wat ons ontvang; ons moet genoeg tyd by elke klagte bestee om te verseker dat die klaers optimale dienslewering ontvang en kan nie net van een toneel na ‘n volgende haas nie.”
Wanneer ‘n misdaad gerapporteer word wat besig is om plaas te vind soos ‘n huisbraak in aanvang sal die klagte voertuig daardie toneel eerste besoek. “Soms het ons verskeie ernstige misdade wat op dieselfde tyd plaasvind en dan probeer ons om so gou as moontlik by almal uit te kom.”
Volgens Eloff het hy begrip vir die netelige posisie waarin die polisielede hul bevind, maar hy voel ook dat dit tyd geword het om alternatiewe oplossings vir die misdaadpro-bleem te vind. “Ons kan almal sien dat die huidige stand van sake nie werk nie. Daar is ‘n algehele gevoel van wetteloosheid en as ons dinge los soos dit nou aangaan gaan ons binnekort ‘n geweldige probleem hê waarvoor daar geen oplossings gaan wees nie.”
“As die polisie die GPF begin betrek by hul misdaadvoorkomingsoperasies en ander bedrywighede het hulle onmiddellik toegang tot addisionele gewillige mannekrag wat misdaad in die dorp kan uitroei.”
Enige persoon wat ongelukkig is met die diens van enige polisielid kan ‘n klagte by die Lephalale polisiekantore aanhangig maak. “Geen polisielid mag weier om ‘n klagte te aanvaar nie en indien ‘n lid van die publiek ongelukkig is mag hulle daarop aandring om met die bevelvoerder te praat en/of ‘n skriftelike klag by die bevel-
voerder inhandig wat dan ondersoek sal word en tot departementele stappe kan lei.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube