-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Die spoggerige vere is behoorlik reggeskud tydens die NG Kerk Ellisras Wes se masker en vere dans ten bate van Abraham Kriel kinderhuis verlede Dinsdag.
Die glansgeleentheid is gehou om fondse in te samel vir Huis Matopie wat elf meisies huisves. “Ons kerk het die huis aangeneem en het gevind dat daar regtig ‘n behoefte aan ‘n drukpomp is om water vir die meisies te voorsien,” het Lizette Perrier, een van die organiseerders van die dans, gesê.
Altesaam 182 kaartjies vir die dans is verkoop. “Indien almal betaal wat beloftes gemaak het die aand sal ons ‘n wins van R9 000 uit die kaartjie verkope maak en meer as R25 000 op die boete blik en veilings wat deur die loop van die aand gehou is.”
Daar is nou genoeg fondse om die drukpomp te koop en die pype in die huis te vervang. “Twee van die meisies kan op hul Graad 7 toere gaan en die res van die geld sal ingedeel word om oor die volgende twaalf maande te gebruik vir kruideniersware elke maand en ook ‘n fliekdag met ‘n paar bederfies te hê.”
Die elf meisies gaan ook elkeen splinternuwe slaapklere kry om hul warm te hou gedurende wintermaande. “Ons wil graag al die dames van NG Kerk Ellisras Wes bedank wat gehelp het met die funksie veral vir Louisa de Lange van die kerkkantoor, Ds. Jannie en Karien Hamman, Sasko vir al die brode, Perfect 10 vir pryse, Hennie Pepler wat gratis musiek verskaf het, al die dames wat kaartjies help verkoop het, almal wat kaartjies geborg het wat nie self daar kon wees nie en al die mense wat ‘n bydrae op die veiling gemaak het.”
Indien daar nog mense is wat wil bydrae kan hulle die volgende rekening inbetaal: Abraham Kriel Kinderhuis, Absa, Rek: 1470 153 667.
Verwysing: Deponeerder se naam en van.
0 Comments