-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Van stoutigheid kan mens kinders niks leer nie. Jy is tog net eenkeer jonk en elke kinder-avontuur word ‘n herinnering wat jy vir ewig koester, maar vir sommige kinders wat met aandaggebreksindroom (AGS) en aandag-tekort-hiperaktiwiteit-versteuring (ATHV) gediagnoseer is, is dit nie net bloot stoutigheid nie, maar ’n ernstige afwyking wat moontlik met medikasie behandel moet word.
Mense wat sukkel met konsentrasie, impulsiwiteit en/of hiperaktiwiteit kan moontlik aan AGS of ATHV ly. In die verlede is na AGS verwys as die persoon nie hiperaktief is nie en net sukkel om te konsentreer.
“Die nuutste tendens is om sommer net van ATHV as ‘n sambreelterm te praat," sê Lizette Rossouw, ‘n bekende opvoedkundige sielkundige in Mokopane.
Christelle Maritz van Lephalale se seuntjie, Albert (7), was nog altyd ‘n lewendige knapie. “My kind het nooit geloop nie en het altyd gehardloop as hy êrens heen wou gaan; sy gedrag het ook wesentlik van sy jonger boetie verskil wat ‘n rustige kindjie is.”
Christelle het haar hande vol gehad met Albert en het selfs gesukkel om vir hom ‘n kleuterskool te kry wat sy gedrag kon hanteer. “Ek wou my kind skuif na ‘n kleuterskool wat nader aan my huis was, maar die juffrou kon doodeenvoudig nie met hom klashou nie en ek was genoodsaak om hom in ‘n skool sit waar sy onderwyser die geduld gehad het om vir hom individuele aandag te gee selfs al was dit verder van my huis af.”
Toe Albert in die laerskool gesit is het sy juffrou besluit dat hy nie genoegsame vordering gemaak het nie en moes hy Gaad R herhaal. “Albert kon nie stilsit en konsentreer nie, as ‘n mens met hom raas oor sy gedrag was dit asof jy met ‘n muur praat - hy het aanhoudend die klas ontwrig.”
‘n Baie oplettende Graad 1 juffrou het Albert na ‘n arbeidsterapeut verwys wat bevind het dat hy moontlik aan ATHV lei. “Ons het hom op Ritalin gesit en nou is my kind ‘n nuwe mens. Hy kan konsentreer en sy gedrag het hand-om-keer verander.”
Yolande Coetzee van Mokopane se seuntjie is hierdie jaar 10 en is met AGS gediagnoseer. “My kind was baie vroeg gebore en op vier-jarige ouderdom het ek agtergekom dat hy spraakprobleme het. Ek het eers gedink dat daar dalk iets met sy gehoor skort wat kon veroorsaak dat hy sukkel om te praat, maar nadat ek hom na ‘n arbeidsterapeut toe geneem het is ons na ‘n psigiater in Polokwane verwys wat bevind het dat hy AGS het.”
Yolande en haar seuntjie sien ‘n psigiater elke drie maande en haar kind neem daagliks Ritalin. Die verskil wat die medikasie aan die seuntjie se gemoedstoestand gemaak het is baie opvallend, sê Yolande. “As hy dit nie neem nie raak hy verskriklik depressief en ons het al geleer om sagter met hom te werk om sy gemoedstoestand te akkomodeer.”
Vir enige ma is dit moeilik om hierdie tipe gedrag by jou laerskool kind te beheer, maar Lizette voeg by dat ouers soms die dam onder die eend uitruk wanneer hulle hoor dat hul kind aan ATHV of ATV lei. “Hierdie kinders is gewoonlik hoogs intelligent en ek hou daarvan om te sê dat hulle Ferrari breine het met fiets remme.”
“Omdat hul noradrenalienvlakke en/of dopamienvlakke te laag is sukkel hierdie kinders om gefokus te bly en kan dit veroorsaak dat hulle ‘n swak selfbeeld ontwikkel en onderpresteer.”
Lizette sê die beste behandeling is ‘n kombinasie van medikasie (om die kind se noradrenalienvlakke en/of dopamienvlakke voldoende te lig) en gedragsmodifikasie (om te help met byvoorbeeld organisasie, struktuur, dissipline, aanvaarding en om daaglikse aktiwiteite beter te hanteer).
‘n Pediater of psigiater sal die medikasie voorskryf wat by die unieke geval pas. Daar is verskeie opsies daarvoor beskikbaar. “Ouers is dikwels skrikkerig vir medikasie, maar dit sou nie vir meer as 50 jaar al op die mark gewees het as dit nie veilig en doeltreffend was nie," sê Lizette.
Sommige ouers kan vir langer as twee jaar wag voordat hulle met medikasie begin omdat die diagnose nie strook met die ideale wat hulle vir hul kind gehad het nie. “Ons sien dan dat die tipiese rou fases volg naamlik ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en uiteindelik aanvaarding.”
Ouers kan ook hul kinders help deur ‘n paar riglyne toe te pas wanneer hul dalk op ‘n uitstappie gaan of na ‘n publieke plek waar die kind sekere gedrag moet toon, verduidelik Lizette. “’n Rustelose tiener kan dalk kougom kou om beweging op ‘n meer sosiaal aanvaarbare manier in te werk, maar ek stel nie voor dat klein of baie impulsiewe kinders dit doen nie omdat hul dalk die kougom in die tannie langs hulle se hare kan kry!”
As die kind nog klein is straf jy hom, jouself en ander onnodig om vir te lang tye van hom te verwag om stil te sit. “Wanneer hy iewers ‘n toeskouer is stel ek voor dat julle iewers sit waar julle nie baie in die oog is en ander mense kan pla nie. Sit ook so dat die kind soms sommer gou kan uitglip en
badkamer toe gaan om bietjie te beweeg.”
Elke gesin wil ook darem so nou en dan gaan uiteet maar as jou kind ‘n woelwater is, is dit beter om ‘n restaurant te kies met ‘n speelplek waar hy/sy van sy/haar energie kan ontslae raak op ‘n toepaslike wyse. “Vermy ‘n stywe formele restaurant waar hy soos ‘n seer-oog gaan uitstaan en jy later eerder onder die tafel sal wil inkruip.”
Lizette sê dit is ook belangrik om goeie gedrag te beloon en daarop te fokus.
Die belangrikste is egter om die korrekte diagnose en behandeling vir jou kind te kry. “Die korrekte benadering tot ATHV by kinders en volwassenes lei onder andere tot meer begrip, beter lewenskwaliteit, bereiking van potensiaal en beter menseverhoudings,” sluit Lizette af.
0 Comments