<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

“Ons sal Monique nog vind”

 

Monique Barnard (19) is steeds vermis.

News : 06 May 2016 3331 Viewed By Amanda Basson 0

LEPHALALE – Dit is vyf weke vandat Monique Barnard (19) in die vroeë oggendure van 7 April uit haar woning in Kameeldoringstraat, Onverwacht, gestap en verdwyn het. Al is daar geen teken van waar sy haarself bevind nie, glo haar ma, Louise Laubser, dat haar kind opgespoor gaan word. 
“Ek moet glo dat my kind êrens is en net nie kontak met my maak nie, want die alternatief is net te verskriklik om aan te dink,” het Louise Dinsdagoggend gesê. Twee privaat speurders het Louise glo al gekontak om te help om Monique op te spoor. "Ek het nie die R10 000 tot R15 000 om hulle te betaal vir hul dienste nie al wil ek hoé graag hul hulp hê.”
Monique, wat na haarself as Monica verwys, se verdwyning is reeds in die nasionale media berig en artikels en plakkate is ook op Facebook gedeel. Noordelike Nuus se oorspronklike berig oor haar verdwyning is reeds meer as 10 500 keer gelees en honderde kere gedeel via Facebook en Twitter.
Monique het die betrokke oggend glo die huis wat sy met haar vriend gedeel het verlaat met net ‘n klein tassie vol klere en haar selfoon. Sy het na bewering geen geld by haar gehad nie. Sy en die vriend, met wie sy in ’n verhouding was, het glo ’n argument gehad en sy het met slegs ’n swart sweetpakbroek en hempie geloop. Sy het vroeër die aand met Louise kontak gehad en het vir haar ‘n boodskap gestuur. Teen die oggend toe Louise haar probeer skakel het, was haar selfoon af en dit is nog nie weer aangeskakel nie.
Sedertdien het haar ma ‘n verbete stryd gevoer om haar kind op te spoor. Louise het al Monique se vriende gekontak en ook met al hul familielede kontak gemaak. “My kind kan tog nie net so verdwyn nie, dis heeltemal abnormaal vir haar om so lank nie met my kontak te maak nie," sê sy. “Ons het ‘n baie goeie verhouding en het gereeld met mekaar gepraat selfs al het sy nie naby my gewoon nie.”
Intussen skets berigte in die media ’n sombere prentjie van ’n jong meisie met emosionele probleme. Louise erken dat Monique wel deur diep waters gegaan het, maar hou vol dat hulle ’n hegte verhouding gehad het en dat sy en Monique gereeld gepraat het.
Louise sê was daar bewerings van ‘n ouer man wat Monique glo in Polokwane gesien het. “Hy het beweer dat hy ‘n saamry geleentheid gekry het met ander persoon en dat daar ‘n vrou wat soos Monique gelyk het in die voertuig was, maar toe ek hom vra om sy woonadres aan my te gee sodat ek dit vir die polisie kan gee om te help met hul ondersoek het hy volstrek geweier.”
Volgens adjudant offisier Frans Mokoena van die Lephalale polisie het hul nog nie verdere vordering met die saak gemaak nie en was hy ook nie bewus daarvan dat iemand haar moontlik in Polokwane gewaar het nie.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube