<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Elke Africanis-hond kry sy dag

 
News : 12 May 2016 713 Viewed By Amanda Basson 0

LEPHALALE – Hulle is volop te sien in die informele dorpies regoor SA en word dikwels verwar met uitgebasterde honde, maar eintlik is die Africanis-hond een van die oudste rasse in suidelike Afrika en kan die ras se oorsprong met Lephalale verbind word.
Die Africanis-hond se Swahili naam se ‘umbwa wa ki shenzi’ wat losweg vertaal kan word as alledaagse of basterhond was glo die eerste makgemaakte honde in Suidelike-Afrika gewees.
Interessant genoeg het Dr. Ina Plug,van die Transvaal Museum, ontdek dat van die vroegste rekords van hierdie besonderse hond terugdateer na 570 na Christus nadat fosiele  opgegrawe is op die plaas Diamand, naby Lephalale. 
“Hierdie honde is spesifiek aangepas vir die klimaat in Afrika, hulle is gehard, lojaal en word bitter min siek,” sê Sonika Oosthuizen van die Lephalale dierebeskermingsvereniging (DBV). Sy sê hierdie hond is vir lank nie as ‘n opregte ras geklassifiseer nie, maar is dit onlangs reggestel en nou spog die Africanis met sy eie ras klassifikasie.
“Ons kry ook van hierdie honde wat wel met ander rasse gekruis is omdat baie van die honde in hierdie informele areas nie gesteriliseer word nie en vrylik rondbeweeg sonder heinings en ander strukture om hulle in te perk.”
‘n Opregte Africanis is medium grootte, skraal en gespierd; hulle is rats en soepel en kan vir lang ente hardloop oor rowwe terrein en in beboste omgewing.
“Hierdie honde is regtig merkwaardig," sê Oosthuizen. “Hulle kom goed met mense oor die weg en hou ook van ander diere, maar het baie oefening nodig en pas beter aan by gesinne wat ‘n aktiewe leefstyl het of op ‘n groot erf of plaas woon.”
Die Lephalale DBV kry elke nou-en-dan een van hierdie honde in en het onlangs weer twee in hul hokke gehad. “Ons kry gewoonlik vinnig huise vir hierdie diere omdat hulle sulke oulike persoonlikhede het en so gehard is. Hulle is nie pieperig nie, het nie duur kos nodig nie en is ook bestand teen meeste virusse en siektes wat in ons omgewing voorkom.”
Vir meer inligting gaan na www.africanis.co.za of Wikipedia se webwerf.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube