-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE - Paul Steyn (29) van die Paul Steyn Stigting in Gordonsbaai loop die land plat met sy kunsbeen sedert Augustus 2015 om geld in te samel vir kunsledemate vir gestremde persone.
Steyn beoog om altesaam 7000km te voet af te lê vir dié doel. Hy het Woensdag in Mokopane aangekom op dag 283 van sy een jaar staptog deur al nege provinsies. Hy het reeds 4 050 km afgelê en ook by Hoërskool Piet Potgieter ingeloer om leerders tydens opening te motiveer met sy lewensverhaal.
Steyn het in 2011 sy eie nie-winsgewende organisasie gestig om ’n verskil in ander se lewens te maak wat hulself in ’n soortgelyke situasie as hy bevind. Hy het sy regterbeen verloor in ’n ongeluk by die skool toe hy 13 was en het van daar af baie uitdaings in die gesig gestaar. Een van sy projekte om uit te reik na behoeftiges, is die staptog wat hy verlede jaar aangepak het. Hy het in Augustus by die Waterfront in Kaapstad begin met sy staptog en het sedertdien reeds die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Vrystaat, Gauteng, en Mpumalanga en ’n groot deel van Limpopo agter die blad. Die Noordwes en Noord-Kaap lê nog voor.
Paul hoop om gedurende sy staptog 2500 getekende debietorders van R50 – R100 te kry om nog behoeftiges te help.
Hy het reeds 12 behoeftiges gehelp prostese kry en sê hy voel dat hy die vermoë het om ‘n verskil te maak in ander se lewens.
Sy staptog eindig op 22 Oktober wanneer hy terug behoort te wees in die Kaap.
Lesers wat ’n bydrae wil lewer tot die stigting word versoek om die woord “walk” te SMS na 38021. Die SMS kos R10. Die bankbesonderhede van die stigting indien lesers ’n groter bedrag wil skenk is soos volg: FNB, rekening nommer, 62326196294, takkode 250655.
Vir verdere inligting, besoek www.paulsteynfoundation.org.za.
0 Comments