-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Die liggaam van ‘n vrou is verlede Vrydag, 6 Mei, sowat 20km buite Lephalale naby die Deelkraal afdraai op die R510 gevind. Polisie kon nie bevestig of dit die liggaam van die vermiste Monique Barnard (19) is nie.
Monique is sedert 7 April vermis toe sy na bewering ná ‘n argument met haar mansvriend, by wie sy gewoon het, in die vroeë oggendure uit die huis in Kameeldoringstraat in Onverwacht geloop het. Sy is glo daar weg met net haar selfoon en ‘n klein tassie vol klere.
Monique het vroeër die aand nog met haar ma, Louise Laubser, kontak gehad maar toe haar ma haar die volgende oggend probeer bel was haar selfoon afgeskakel. Volgens Louise is die foon sedertdien nog nie weer aangeskakel nie.
Monique en haar ma was gereeld in kontak met mekaar en Louise het onraad gemerk toe sy nie haar dogter in die hande kon kry nie.
Louise het in ‘n telefoniese onderhoud met Noordelike Nuus verlede week gesê dat sy glo sy haar kind sal opspoor aangesien die alternatief "net te verskriklik is om te oorweeg."
“Die liggaam wat ons gevind het was reeds in ‘n gevorderde stadium van ontbinding en ons sal daarom van DNS toetse gebruik maak om vas te stel of die DNS van die oorledene met dié van Monique se ouers ooreenstem,” het adjudant offisier Frans Mokoena van die Lephalale polisie gesê.
‘n Polisielid het aan Noordelike Nuus gesê dat die toneel deeglik ondersoek is en dat daar bewysstukke en monsters versamel is om die polisie ‘n idee te gee hoe lank die liggaam reeds daar lê. Dit sal help met enige toekomstige ondersoeke oor wanneer ‘n moontlike misdaad plaasgevind het.
“Wanneer die patoloog die lykskouing doen sal ons met meer sekerheid kan sê waaraan die persoon oorlede is en of daar enige seksuele misdrywe plaasgevind het.
Die nadoodse ondersoek sou Woensdag-oggend plaasgevind het en intussen is die polisie nog besig met hul ondersoek.
“Ek weet dit lyk asof ons besig is om voete te sleep, maar die publiek moet onthou dat al hierdie forensiese toetse en deskundige verslae tyd neem. Ons moet binne die wet optree en in gedagte hou dat elke
persoon (selfs ‘n verdagte persoon) regte het wat hulle beskerm teen onregverdige
vervolging.”
Intussen het Louise gesê dat sy nie in hierdie stadium enige kommentaar wil lewer oor die moontlikheid dat dit dalk haar dogter kan wees nie.
“Ek wil egter net aan almal baie dankie sê vir hulle ondersteuning gedurende hierdie moeilike tyd, ek waardeer regtig elke woord van bemoediging en kan nie aan enigiemand anders beskryf waardeur ek nou gaan nie."
0 Comments