<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

‘Ek is sterk vir Douwtjie,’ sê Sibreena

 

Sibreena da Costa.

Kaitlint, Jayden en Douw voor die ongeluk wat |Katilint en Jayden se lewens geëis het.

News : 24 May 2016 2428 Viewed By Amanda Basson 0

LEPHALALE – Dit is al amper nege maande vandat Sibreena da Costa (26) twee van haar kinders in ‘n brand verloor het. Intussen het die lewe aangegaan en baie dinge het gebeur, maar die seer en gemis lê nog vlak in hierdie jong ma se hart.
Op 4 September verlde jaar is Sibreena se hele wêreld geskud toe ‘n brand uitgebreek het in die kamer waar haar twee kinders, Kaitlint (8) en Jayden (1), geslaap het. José da Costa (53), die kinders se oupa, het heldhaftig gepoog om sy kleinkinders uit die brandende kamer te red en sy voete is in die proses verbrand, terwyl Sibreena se vriend, Johan Nel, wonde aan sy hande opgedoen toe hy die venster moes breek om die kinders uit die kamer te probeer kry. Kaitlint en Jayden het ernstige brandwonde oor hulle liggaampies opgedoen en is enkele dae uitmekaar in die hospitaal oorlede.
Sibreena se ander seuntjie, Douw (4), het genadiglik geen beserings tydens die voorval opgedoen nie.
“Ek sukkel nogsteeds om te slaap en sien soms vir Kaitlint in ander kinders as ek deur die dorp stap, maar ek weet dat ek moet sterk wees ter wille van Douwtjie,” het  Sibreena Maandagoggend gesê.
Douw gaan deesdae skool toe by een van die plaaslike kleuterskole en het skynbaar goed aangepas na die traumatiese gebeure. “Ek is wel ‘n bietjie oorbeskermend teenoor hom en wil van my kop af raak as hy dalk met ‘n klein seerplek van die skool af kom, maar ek probeer om soveel moontlik tyd met hom deur te bring en om vir hom aangename herinneringe te skep.”
Die raaisel rondom wat presies tydens die aand van die vuur gebeur het is nog nie opgelos nie en Sibreena voel dat sy eerder nie te veel daaroor wil tob nie. “Die outopsie verslag is nog nie gereed nie en sover ek
kennis dra het die polisie ook nie enige vordering met hul ondersoek gemaak nie.”
Met Oupa Da Costa gaan dit ook beter. “My pa sit soms op die bank in die sitkamer en wanneer hy die letsels aan sy voete sien sal hy sê dat sy linkervoet Kaitlint is en sy regtervoet Jayden is. Hy loop deesdae weer heeltemal reg maar het nog soms seer.”
“My pa is my held en ek het geen idee hoe ek deur hierdie moeilike tyd sou kom as dit nie vir hom was wat my elke dag gemotiveer en bygestaan het nie.”
Sibreena en haar pa woon deesdae saam met Douw in ‘n nuwe huis. “Dit was hartverskeurend om in die huis te woon waar my kinders gebrand het; ek kon nie in die kamer ingaan nie en Douw het aanhoudend aan die deur geklop en onderdeur die skrefie van die deur probeer kyk asof hy na sy boetie en sussie gesoek het.”
“Net voordat ons getrek het het ek in die kinders se kamer gaan bid en het ek gevoel dat Kaitlint en Jayden saam met my in die kamer was, ek kon ook baie duidelik voel dat die Here aan my geraak het.”
Van die onenigheid rondom die geld wat geskenk is vir die kinders wil Sibreena nie veel sê nie. ‘n Fondsinsameling is gehou kort nadat die kinders in die hospitaal opgeneem is wat bestuur is deur ‘n nie-winsgewende organisasie, Engele vir Nood. “Die geld was nooit vir my vreeslik belangrik nie ek wou net genoeg hê om grafstene vir my kinders op te sit en het dit ook gedoen toe die geld uiteindelik uitbetaal is.”
Die res van die geld het Sibreena gebruik om Douw se kamer oor te doen.
“Die kinders se kamer is heeltemal deur die vuur vernietig en ek het vir Douw nuwe beddegoed en Spiderman bykomstighede gekoop vir sy nuwe
kamer.”
Stelselmatig het Sibreena ook begin om van Kaitlint en Jayden se klere weg te gee vir minder-
bevoorregte kinders. “Ek het van die klere soos Kaitlint se skoolklere gehou omdat dit sentimentele waarde vir my het, maar ek het al hulle speelgoed weggegee omdat dit net te pynlik vir my was om daarna te moes kyk as Douw daarmee gespeel het.”
Sibreena en haar pa wil graag op Woensdag 1 Junie om 17:30 ‘n spesiale gedenkdiens vir Kaytlint by die begraafplaas in Onverwacht hou.
“Dit is Kaitlint se verjaarsdag en ek wil graag almal in die dorp uitnooi na ‘n herinneringsdiens vir my meisiekind waartydens ek ballonne en lanterns wil opstuur ter nagedagtenis aan haar, dieselfde sal vir Jayden op sy verjaarsdag op 9 Julie gedoen word.”

 

 

 
 

Kaitlint, Jayden en Douw voor die ongeluk wat |Katilint en Jayden se lewens geëis het.

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube