-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Janet Duvenhage (45), ’n vrou wat as ’n dapper “ystervrou” beskryf word, het Sondagaand haar stryd teen kanker in die Wilgers Hospitaal in Pretoria verloor.
Janet is aanvanklik drie jaar en nege maande gelede met borskanker gediagnoseer maar kon haar aktiewe lewenstyl voortsit gedurende haar remissie tydperk.
Janet en haar familie was egter van vooraf verpletter toe hulle in November verlede jaar moes hoor sy het weer kanker. Die kanker was in haar bobene, bors en skedel. Haar toestand het versleg en na ’n terugslag is sy verlede Dinsdag in die hospitaal opgeneem. Haar familie moes Sondagaand baie swaar van haar afskeid neem.
Janet was baie lief vir sport en ’n vriendin van Janet het op 10 Mei ’n Facebook-blad, “Tree vir tree vir Janet Duvenhage” gestig om Janet te motiveer en te laat weet hoeveel mense vir haar omgee. Lede van die blad het vir dié saak gestap, gedraf en geoefen.
Janet wou graag aan die 21km Two Oceans Marathon deelneem en só het dit ook gekom dat van haar vriendinne onderneem het om intussen vir haar te oefen.
Janet laat haar man Francois, dogters, Ilze, Michelle, Nicolette en Janicke asook twee seuns, J.G en Francois, agter.
Haar begrafnis vind Vrydag (vandag) om 11:00 vanuit die NG Hulp en Hoop
gemeente plaas.
0 Comments