-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Groter honde wat uit woonbuurte verdwyn word vermoedelik gesteel vir hondegevegte. Twee mans met ‘n donkiekar het verlede week na bewering ‘n wit bulterriër (varkhond) uit ‘n erf in Rabestraat gesteel.
Hulle is egter uitgevang nadat ‘n vrou op Facebook gerapporteer het dat sy hulle op heterdaad betrap het en gesien het hoe hulle die hond op ‘n donkiekar laai en die hond onder die sitplek van hul donkiekar vasbind.
Die ooggetuie het onmiddellik die DBV ontbied en haar misnoeë op Facebook uitgespreek. Ander Facebook-gebruikers het die donkiekar se roete gerapporteer. So kon die DBV die roete volg en uiteindelik die betrokke donkiekar in Sekgakgapeng vastrek. Die twee verdagte mans het die hond se bek met ’n stuk draad toegebind.
Die mans het die hond toe aan die DBV oorhandig na die konfrontasie en die hond is terugbesorg aan sy eienaar.
Volgens die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging (DBV) se bestuurder, Marcelle Maritz, het die eienaar van die hond glo ‘n klag gelê by die polisie.
Maritz het ook haar kommer uitgespreek oor diewe wat helder oordag toeslaan en honde steel. Sy maan inwoners om nie mense met donkiekarre te gebruik om goedere weg te ry of af te laai in woonbuurte nie.
Maritz is van mening dat dit baie moontlik is vir mense met kriminele planne om van donkiekarre gebruik te maak om in woonbuurte rond te beweeg om inligting te bekom oor diere en huise. “Inwoners gebruik donkiekarre se dienste om byvoorbeeld hulle tuinvullis of bourommel te verwyder,” sê sy.
Sy beweer dat die DBV inligting ontvang het wat haar oortuig dat die honde diefstal gepaard gaan met sogenaamde hondegevegte in en rondom Mogalakwena. Sy sê dat geld betrokke is by professionele hondegevegte. Groter en kwaaier honde word gebruik om te veg, terwyl diere soos katjies en kleiner honde vir die veghonde gegooi word sodat hulle kan leer om dood te maak.
“Dit is moeilik om skuldiges wat betrokke is by hondegevegte, vas te trek. Hulle beweeg voortdurend rond en inligting oor plekke waar hondegevegte gehou word, is so te sê onmoontlik om vas te pen. Ons weier om dit daar te laat en sal enigiets doen om skuldiges te vang,” sê Maritz vasberade.
0 Comments