-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE – Die bekende sakeman Waltie van der Walt se jongste seun, Eli (24), is in die Polokwane MediClinic se intensiewe sorgeenheid nadat hy Saterdagoggend in ’n ernstige motorongeluk buite Mookgophong betrokke was.
Volgens Waltie het die motor waarin Eli gery het se regter voorwiel gebars. Hy is uit die motor geslinger nadat dit gerol het. Hy het ’n skedel basis fraktuur opgedoen, sy breinvlies is geskeur en hy het swelling op sy brein. Sy longe is ook gekneus en sy regterarm is net bokant sy elmboog gebreek.
Waltie het aan Noordelike Nuus gesê dit gaan beter met Eli. Hy was in 'n geïnduseerde koma geplaas.
“Sedasie is noodsaaklik vir die swelling op sy brein en die pyn,” sê Waltie. Die suurstof pyp is intussen uitgehaal.
Volgens die dokter kan dit tussen een en drie weke neem vir die swelling om te sak. “Die volgende paar dae is krities vir Eli, sodra die swelling gesak het, sal die dokters aan sy frakture en wonde werk,” sê Waltie.
Waltie het Woensdagaand op Facebook laat weet dat Eli op sy familie se stemme reageer. Hy is Donderdag geopereer en Waltie sê dat sy toestand stabiel, maar onveranderd is. Hy sou Dinsdag, 23 Mei, vir 'n breinskandering gaan.
Waltie en sy gesin het almal bedank vir hulle gebede en ondersteuning en gevra dat hulle asseblief nie sal ophou bid nie.
0 Comments