-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – ‘n Inwoner van Albert straat het verlede Donderdagoggend ‘n nare ondervinding gehad toe sy na bewering ‘n tiener seun (14) in haar erf betrap het terwyl hy besig was om deur haar besittings te gaan.
“Ek het teruggekeer na my huis nadat ek my kinders by die skool gaan afgelaai het en het opgemerk dat my hek se knip nie toe was nie,” het Thea Pelser gesê. Sy het onraad vermoed omdat sy altyd sekermaak dat haar hek behoorlik toe is as sy haar erf verlaat.
“Ek het na my tuin geloop en gesien dat die seun besig was om deur die kratte te krap wat nog buite gestaan het nadat ek onlangs getrek het.”
Die seun het probeer om oor die muur te spring nadat Pelser op hom begin skree het, maar omdat daar groot honde in die erf langs hare is het hy omgedraai en teruggehardloop. “Ek geen idee gehad of hy dalk ‘n wapen by hom gehad het nie en ek het net geskree dat hy moet padgee.”
Met al die bohaai het Pelser se dogter, Mariska Ehlers (wat in die huis langsaan woon), uitgegaan en by Pelser se hek gaan staan. Die verdagte het na bewering by Ehlers probeer verby hardloop terwyl hy nog ‘n sak vol goed by hom gehad het, maar Ehlers het hom aan sy arm beetgekry. “Hy het toe so ewe na my gedraai en gevra of hy maar die goed kan hou.”
Die seun het losgeruk en weggehardloop.
Volgens Pelser het haar dogter haar later die middag gebel nadat sy ‘n seun by Laerskool Ellisras gesien het. Sy het een van die ouers op die perseel genader en hy het die seun weggejaag. “Ons het hom gevolg tot by die BP vulstasie naby die skool en gesien hoe hy in ‘n voertuig klim.”
“My dogter het na die bestuurder van die voertuig gegaan en vir hom gesê dat hy nie moet ry nie omdat ons die tiener al van die oggend af soek.”
Pelser het die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se dienskamer geskakel en hulle het die polisie laat weet. “Ek was beïndruk met die vinnige reaksie van die GPF en die polisie wat die tiener dadelik opgelaai het.”
Die polisie het Pelser laat weet het dat hulle die ouers van die jongman opgespoor het.
Pelser sê daar is gereeld ‘n klomp jeugdiges in die omgewing van Albertstraat wat lyk of hul net vir kwaadgeld rondloop. “Ek dink ons almal moet so ‘n bietjie meer bedag wees op wat om ons aangaan sodat ons hierdie tipe insidente kan verminder.”
0 Comments