STOCKPOORT – Drie verdagtes is deur Heritage Protection Group (HPG) vasgetrek nadat die koppe en pote van verskeie leeus wat vermoedelik die afgelope drie weke in Limpopo en Mpumalanga vergiftig is by hulle gevind is. Lesers is met afgryse gevul nadat foto's van die karkasse geplaas is nadat daar twee weke gelede twee wyfie wit leeus op 'n plaas naby Stockpoort gevind is waarvan die koppe en pote afgesny is.
HPG het spore gevol op een toneel tot waar die verdagtes opgelaai is. Vernuftige speurwerk deur die oud Moord-en-Roof speurder, Joe Malungu, het die deurslag gegee en gelei tot die drie verdagtes se arrestasie.
Twee weke gelede het adjudant offisier Jurg van Heerden van die Lephalale polisie se veediefstaleenheid vertel hoe hulle die verdagtes se spore gevolg het nadat hulle die twee wyfie leeus se karkasse gevind het.
Volgens Van Heerden is daar ‘n baie sterk moontlikheid dat die leeus met ‘n gifstof bekend as Temik vergiftig is. “Ons moet nog forensiese toetse doen maar het stukke vleis met swartkorreltjies naby die leeus gekry wat baie na Temik lyk.”
André Botha van die Endangered Wildlife Trust (EWT) het vroeër vanjaar by ‘n praatjie oor aasvoël vergiftiging by Exxaro se Manketi lodge in Lephalale gesê dat Temik-vergiftiging ‘n baie pynvolle en wrede manier is om diere te dood. “Die dier raak lusteloos en braking is in baie gevalle teenwoordig; die senuweestelsel van die dier word aangetas wat tot gevolg het dat dit sukkel om asem te haal en uiteindelik versmoor.”
Die verkoop van Temik as ‘n pes beheermiddel word streng deur die Departement van Landbou gereguleer en iemand wat dit wil aanskaf moet oor ‘n permit beskik om daarmee te werk. “Ons sien egter dat die gif by informele winkels in veral plakkerskampe verkoop word as rotgif en vir so min as R5 ‘n pakkie gaan.”
“Ek weet van twee ander gevalle waar leeus op dieselfde manier vergiftig is en hul ledemate verwyder is in Groblersdal en Bela-Bela maar het nog nie voorheen met so ‘n geval naby Lephalale te doene gekry nie,” het Van Heerden gesê
Volgens hom is dit moeilik om te sê of die leeus se liggaamsdele vir tradisionele toorkuns (muti) of ander redes gebuit word. “Daar is ‘n baie groot Chinese mark vir eksotiese diere se liggaamsdele en ek wil my liewer nie uitlaat oor die redes vir die vergiftiging nie.”
Intussen het die eienaar van die vergiftigde leeus ‘n R100 000 beloning uitgereik vir enige informasie wat tot die arrestasie van die skuldiges kan lei.
Onder: Een van die witleeus wat vergiftig en vermink is op die plaas buite Stockpoort.
0 Comments