-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
BOSVELD - Hierdie week is kinderbeskermingsweek en die polisie waarsku dat daar daagliks een kind elke vyf ure as vermis aangegee word in Suid-Afrika. Wanneer jou kind vermis word moet jy dadelik optree - die eerste uur is die belangrikste, sê Tanya Strydom van SOS Sekuriteit.
In een insident Vrydagmiddag het ‘n 12-jarige leerder van Laerskool
Krugerpark sy ma groot laat skrik toe hy na skool nie huis toe gekom het nie. “Die mamma het SOS gebel en was rasend van bekommernis,” sê Strydom. “Ons het onmiddellik begin soek en Facebook gebruik om vir hulp te vra en dit was verblydend om te sien hoeveel mense dadelik in hul motors geklim het en begin soek het.”
Die seun is binne enkele ure by ‘n nuwe maatjie opgespoor en ‘n baie dankbare ma het SOS, Suricat en die gemeenskap
bedank dat hulle gehelp het sonder dat hulle eers haar of haar kind persoonlik ken.
In ‘n tweede geval het ‘n Facebook-inskrywing oor ‘n twee-jarige dogtertjie wat moontlik ontvoer is by 'n Lephalale inkopiesentrums die dorp behoorlik aan die gis gehad. Alhoewel die gemeenskapspolisiëringsforum en Vetus Schola glo binne minute op die toneel was, was dit gelukkig ‘n vals alarm en die kind was ongedeërd.
“Wat as dit my of jou kind was?” het een inwoner geskryf. “Ek hoop dat as so iets ooit met my moet gebeur sal my mede-inwoners dadelik optree.”
Die derde geval het ongelukkig tragies geëindig toe ‘n nege-jarige seuntjie van Mokopane Primary, Katlego Lesenya, glo ontvoer en vermoor is (sien bl. 3).
Volgens die polisie word 77% van vermiste kinders wel opgespoor, maar die 23% wat nie opgespoor - of te laat opgespoor word - is gewoonlik te wyte aan kriminele.
Die polisie gee die volgende wenke:
Sorg dat jou kind hul volle naam, ouderdom asook jou foonnommer en adres ken.
Kinders moet weet hoe om hul ouers, grootouers of die polisie te bel indien nodig.
Leer jou kind om nie alleen te loop of te speel nie, bly altyd in ‘n groep of tussen ander kinders.
Kinders moet nie alleen gelaat word by plekke waar vreemdelinge hul kan nader nie (soos parke, speelareas, winkels of parkeerareas nie).
Kinders moet nie geskenke van vreemdelinge aanvaar nie.
Kinders moet nie met vreemdelinge praat nie.
Kinders moet nie saam met iemand – selfs iemand wat hulle ken – gaan sonder hul ouers se toestemming nie.
Leer jou kind ‘n ‘veiligheidwoord’ wat gebruik kan word indien jy iemand moet stuur om hom of haar op te laai en hulle nie daarvan weet nie.
Leer jou kind om weg te hardloop na die naaste publieke plek indien iemand hom of haar bangmaak of ongemaklik laat voel.
Leer jou kind dat as hy of sy verlore raak in ‘n inkopiesentrum om na die naaste winkelkassier te gaan en vir hulp te vra.
Weet waar jou kind is ten alle tye. Maak seker jy weet wie hul vriende is.
0 Comments