-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE – Ten spyte daarvan dat die kankerlyertjie Nathan Hogan (6) ongelooflike pyn verduur en selfs vir ‘n rukkie nie kon loop nie, glo hy vas dat hy nie ernstig siek is nie, het sy ma, Nolene Hogan, Dinsdagoggend aan Noordelike Nuus vertel.
Nathan is op vierjarige ouderdom met ‘n rare tipe kanker bekend as graad vier neuroblastoom kanker gediagnoseer. ‘n Suksesvolle gesinsdag is ten bate van Nathan gehou in 2014 en die geld wat ingesamel is is gebruik om van sy se mediese kostes te delg. “Ons het Nathan na ‘n deskundige in Richardsbaai geneem wat ‘n gespesialiseerde tipe bestraling kan doen omdat die kanker so naby aan sy hart en longe gelê het,” vertel Nolene.
Sedertdien was die kanker dormant en het hy vir ‘n rukkie geen simptome gehad nie. Met ‘n onlangse doktersbesoek is daar egter bevind dat die kanker weer aggressief begin versprei het.
“Oorspronklik was daar net drie gewasse in Nathan se bors, nek en rugstring en het dit ook na sy beenmurg versprei, maar hierdie keer is daar gewasse op van sy kliere, borsbeen, skouerbeen en een knie.”
Die pyn het Nathan vir omtrent twee weke platgetrek en hy moes in die bed bly, maar teen Maandagoggend het die klein vegtertjie net besluit hy gaan opstaan. “Hy het net eenvoudig besluit hy gaan weer begin loop en selfs al kan ek sien dat hy baie seer het weier hy om stil te sit.”
Dit is vanselfsprekend dat hierdie tipe siekte ook sy tol op die ander gesinslede eis. “Nathan se boetie, Jordan (8), verstaan nie altyd hoekom hy (Nathan) ekstra aandag moet kry nie en ek probeer om vir hom die minimum te sê oor presies hoe siek sy boetie is.”
Nathan het ook ‘n ousus, Kaylen (15), wat baie beskermend teenoor haar boeties is. “Dis makliker om vir haar te verduidelik omdat sy al ouer is en verstaan wat aangaan en sy sit ook gereeld handjie by as dinge bietjie dol raak.”
“Ek wil vir Nathan weer na die spesialis in Richardsbaai neem vir bestraling maar dit sal ongeveer R80 000 kos en ek het regtig nie soveel geld nie,” het Nolene gesê. Die behandeling is enig in sy soort in Suid-Afrika en word gedoen wanneer die kankergewasse naby interne organe lê wat deur tradisionele bestraling aangetas kan word.
Ongelukkig is tyd nie aan Nathan se kant nie. “Ons moet die geld voor 10 Junie inbetaal sodat hy Maandagoggend opgeneem kan word.”
Enigiemand wat ‘n donasie wil maak kan ‘n inbetaling maak aan NW Hogan, Nedbank Spaarrekening: 2002466319.
Takkode: 144547.
0 Comments